Die Vrystaatse pluimbalspeler Nita Scholtz is besig om haar te vestig as een van die groot name in pluimbal in Suid-Afrika (SA). En, sy is slegs 15 jaar oud.
Sowat ‘n jaar gelede het hierdie skitterende speler van die Hoërskool Eunice in Bloemfontein haar naam in die Afrika-kontinent se pluimbalgeskiedenisboeke ingeskryf toe sy die eerste speler geword het om vier goue medaljes by die Afrika-kampioenskap in Uganda in die afdeling vir meisies onder 15 in haar vertoonkas gebêre het.
Scholtz het by die SA junior kampioenskap wat Saterdag in Pretoria geëindig het weer ‘n unieke onderskeiding behaal en dié keer is dit ‘n prestasie wat nog nooit voorheen SA vermag is nie. Sy het jongste Suid-Afrikaner geword om die SA juniorenkelspeltitel te wen. Sy kan boonop nog vier jaar haar titel in die genoemde ouderdomsgroep verdedig.
Nog beter – sy het in haar opmars na die titel nie een stel afgestaan nie.
Scholtz het pluimbalkenners aan die gons met haar puik spel op so ‘n jeugdige ouderdom.
Nóg ‘n bewys het sy kop uitgesteek dat Bloemfontein steeds die mekka van pluimbal in SA is en soos die sport se opwaartse kurwe nou vertoon, gaan dit nog lank die geval wees.
Die enigste speler wat vir Scholtz noemenswaardige teenstand in die enkelspel kon bied was die 17-jarige Leah Schoeman, en sy is óók ‘n leerling van Eunice. Scholtz het egter haar skoolmaat gerieflik geklop (21 – 11 en 21 -15), maar feit bly staan, Eunice beskik oor die twee beste junior vrouepluimbalspelers in die land.
Scholtz se skielike opgang en oorheersing in SA pluimbal (juniors) was van so ‘n aard dat selfs die voormalige beste junior vrou in die land, Janke van der Vyfer (Oranje) besluit het om eerder te fokus op die dubbelspel- en gemengdedubbelspel-dissipline.
Dié strategie het vir Van der Vyver gewerk toe sy saam Scholtz die dubbelspel vir junior vroue gewen het en ook goud verower het saam met haar Gautengse spanmaat in die gemengde dubbelspel, Micheal Jennings.
* Die provinsie se pluimbalkrag is verder onderstreep toe die Vrystaat se nommer een en twee seniorvrouespelers, Elmé de Villiers en Sandra le Grange, vir die Kovsies amok gemaak het by die SA studentekampioenskap.
De Villiers en Le Grange het ander universiteite geen kans gegun nie en dié twee Kovsies moes sake uitspook in die eindronde van die enkelspel. De Villiers het met twee stelle teen nul geseëvier.
Nodeloos om te sê dat die De Villiers/Le Grange-kombinasie geen probleme ondervind het om vir die Kovsies ook die SA studentetitel in die dubbelspel vir vroue te wen. Hulle is altemit die beste en naasbeste seniorvrouespelers in die land.







