GEORG VAN ECK
’n Vegter soos min. Dit is die enigste manier waarop sersant Ashley Bengell van die Suid-Afrikaanse Lugmag op Bloemspruit beskryf kan word.
Hy is hard deur veelvuldige sklerose geslaan, maar is nou besig om te herstel en wil hy terugploeg om ander slagoffers van die gevreesde siekte veelvuldige sklerose (Multiple Sclerosis) of MS soos dit bekend staan, te help.
Daarom onderneem hy saam met ‘n groep ondersteuners en kollegas soos vlugsers. Jaco Wessels ’n MS-fietstoer van Bloemfontein na Kaapstad, om geld in te samel en mense bewus te maak van die gevreesde siekte.
Sers. Bengell is oorspronlik van die Kaap, maar het hom saam met sy pa, ‘n valskermsoldaat, in 1998 in Bloemfontein gevestig. Hy het sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Dr. Viljoen voltooi voordat hy hom in 2001 by die SA Lugmag aangesluit het. Hy sy opleiding as vliegtuig-werktuigkundige in Centurion ondergaan en daarna op Bloemspruit begin werk.
In 2005 het hy probleme met die sig van sy linkeroog begin ondervind en moes ‘n oogarts besoek en skaderings ondergaan toe daar aanvanklik gedink is dat ’n verswakte aar in sy kop gebars het. Ek het hulp van veral van drr. Victor Stallenberg en Gerda de Waal gekry.
Ná ‘n ernstige aanval in 2011 waarin hy beseer is, sy spraak aangetas is en hy groot problem met sy balans ervaar het, is gevrees dat dit ook die einde van sy loopbaan kon beteken.
Hy het ook absesse ontwikkel en moes gereeld inspuitings ontvang, wat destyds R16 000 per maand gekos het.
“Die Lugmag wou my board, maar ek het gevra vir meer tyd. Gelukkig het dr. Stella de Kock van Rosepark, na nog ‘n ondersoek, bevind dat die vorm (CIS) van MS, wat ek het, nie permanent is nie. Dit het my aangeval maar weer gelos.
“Om te herstel het ek in die gimnasium begin oefen en “spinning” gedoen en daarvan gehou,” voeg sers. Bengell by.
Intussen het het hy hom as vliegtuigwerktuigkundige gekwalifiseer en bied hy nou oorbrugingskursusse (van een vliegtuig na ‘n ander) by een van die eskaders aan. Hy ry met sy bergfiets op die basis rond en werk en beplan ook vir die toer.
Die groep spring op 1 Maart in Bloemfontein om 05:00 weg en volg ’n roete suidwaarts en sal deur dorpe soos Vanderkloof, Britstown, Beaufort-Wes,Oudtshoorn, Worcester tot in Bellville in die Kaap volg.
Hy sal op ’n padfiets van Vrystaat Fietsry ry en met minstens nege ander ryers en ’n ondersteuningspan in voertuie sal hy genoeg geselskap hê.
Om so ’n toer te reël is nie maklik nie. “Die logistiek van so ’n toer verg baie beplanning en reëlings. Ons moes die nodige toestemming en permitte kry, die roete beplan en slaapplek, kos en ondersteuning reël. Alles is nou in plek,” vertel vlugsers. Wessels.
Sers. Bengell het groot hulp van Neels Kleyn van Kuruman gekry. “Ek het hom op die internet opgespoor toe ek na soortgelyke toere gesoek het. Hy ondersteun my wonderlik en daar is vyf ryers van Kuruman, wat ’n Springbok-ryer insluit, wat die toer gaan meemaak,” sê sers. Bengell.
Hy het lof vir die hulp wat hy van mense en organisasies gekry het, maar sê sy pa, Abraham, se ondersteuning en aanmoediging was deurslaggewend. “Hy het sy rug met valskermspring beseer en kon in ’n stadium nie loop nie, maar hy het my altyd aangemoedig en ondersteun.”
Sers. Bengell het nog hulp nodig. Vir enige hulp en inligting kan by sers. Bengell 078-7209-284 verkry word.







