Laasweek het ons bietjie gesels oor die negatiewe marktoestande wat tans heers en grootliks te wyte is aan die handelsoorlog tussen die VSA en China.
Baie beleggers is op die oomblik negatief en wil hul beleggingsportefeuljes drasties aanpas. Moet asseblief nie in hierdie stadium enige drastiese of impulsiewe beleggingskuiwe, gebaseer op huidige gebeure, maak nie.
Soos mooi reënwolke van ver nader rol op die horison totdat die reën begin val, net so sal die geduldige belegger ook beloon word. Tans is beleggingsopbrengste opgedroog en alles lyk bleek. Kyk egter bietjie verder, verby die huidige onsekerhede. Wat sien jy?
Ons het vir Cyril Ramaphosa, wat onmiddellik na sy verkiesing as ANC-president ingespring het om die skade wat Jacob Zuma aangerig het te begin herstel. Baie Zuma-bondgenote is in die pad gesteek en ander is na minder belangrike posisies geskuif. Nene en Gordhan is terug om Suid Afrika se finansies reg te ruk.
‘n Mens kan klaar sien hoe Ramaphoria ‘n effek op ekonomiese groei het en werklike groei het ingekom op 1.3% vir 2017, jaar op jaar, teenoor die verwagte 1%. Moody’s het Suid-Afrika ook nie verder afgegradeer nie en dit is tans baie onwaarskynlik dat ons verder afgegradeer sal word. Dít is baie positief. Inflasie is goed onder beheer en op 4% is dit gemaklik binne die Reserwebank se teiken van 3% tot 6%.
Die rand is relatief sterk, wat dalk kan help met toekomstige inflasiedruk, terwyl rentekoerse ook reeds met 0.25% gedaal het, alles goed vir plaaslike ekonomiese groei. In die buiteland groei die groter ekonomieë gesinchroniseerd en dit het baie lanklaas gebeur. Die groei behoort met tyd ‘n positiewe effek op hulpbronpryse te hê, wat Suid-Afrika net verder kan bevoordeel.
Dinge lyk vir Suid-Afrikaanse beleggers glad nie sleg nie. Probeer dus verby die huidige geraas kyk en fokus op die horison, want dit is waar jy opbrengste gaan kry.
Moet dus nie jou beleggingsportefeulje nou wil aanpas vir huidige gebeure nie, kry dit eerder belyn met dit wat voorlê en op pad is.
HORACE TERRY
horace@nassaux.com