Sung-Hoon Kim se droom om ‘n hoofrol in ‘n fliek te speel, het op 16 Oktober 2015 ‘n werklikheid geword met die vrystelling van Reconnect in Nu Metro-teaters oor die land heen.
Die tweedejaar- mediese student aan die Universiteit van die Vrystaat het in Desember 2013 ‘n professionele akteur geword toe hy die sprong van die hoërskool-dramaverhoog na die groot skerm gemaak het.
“Ek het op hoërskool aan toneelstukke deelgeneem waar ek rolle soos Simba in The Lion King vertolk het,” het die nuwe filmster gesê.
Die film is ‘n suiwer Suid-Afrikaanse skepping. Die agtergrond is geskiet in Potchefstroom en Klerksdorp, Sung-Hoon se vorige en huidige tuisdorpe. Sung-Hoon vertolk twee hoofrolle: XJ-1 − ‘n robot, en die filmrol van ‘n kunsmatige intelligensie-operateur by SKY CORP − ‘n internasionale intelligensie-maatskappy wat top-geheime inligting van oor die wêreld heen beskerm.
Die regisseur van Reconnect was wyle Marius Swanepoel, wat Sung-Hoon beskryf as ‘n “groot seën vir almal wat bevoorreg was om hom te ken”.
Die film verken die verhouding tussen die mens en kunsmatige intelligensie.
Eric Scott ontdek XJ-1 by ‘n verlate pakhuis en neem hom na SKY CORP, waar hy vernielsugtig raak. Eric en sy vriend, Jason, kom dan te staan voor die probleem om die situasie onder bedwang te bring en die maatskappy, wat deur XJ-1 met ‘n gevaarlike virus besmet is, te red. Soos die wetenskapfiksie-aksie ontvou, kry kykers ‘n kykie in die lewe van XJ-1.
Die skietwerk aan Reconnect was vir Sung-Hoon ‘n opwindende ervaring. “Dit was nogal pret, want ek hou daarvan om stemme na te boots,” het hy gesê.
-Supplied







