‘Matrieklose’ word lid van New York-balie

0
601
Ronald Chinner voor die New Yorkse Appélhof afgeneem.

‘n Oud-Tralie, wat nooit matriek voltooi het nie, het vanjaar die eerste Bloemfonteiner geword om tot die New Yorkse balie toegelaat te word.

Ronald Chinner, Esquire, soos dié oud-Kovsie deesdae bekend staan, praat met trots oor sy reis van waar hy sowat 10 jaar gelede die skool sonder ‘n matrieksertifikaat verlaat het, tot waar hy vandag ‘n gerespekteerde lid van die New Yorkse balie is.
Dié voorreg is slegs een uit drie buitelandse en twee uit drie Amerikaanse aansoekers beskore. Nog ‘n kandidaat uit Afrika, ‘n Nigeriese prokureur, het ook vanjaar dié eer ontvang.

Ronald Chinner, die eerste Bloemfonteiner wat tot die New Yorkse balie toegelaat is. FOTO: ADRI LOUW

Chinner (28) sê dit was geen maklike tog nie, maar met volop toewyding tot sy droom om prokureur te word en jare se harde werk, was sukses ‘n uitgemaakte saak.
“Hoewel ek in Bloemfontein gebore is en my skoolloopbaan hier begin het, moes ek in ‘n stadium Dubai toe verhuis omdat my ouers daar gewerk het. Toe ek uiteindelik terug is in Bloemfontein, moes ek in ‘n graad begin wat sou beteken dat ek eers op 21 my matrieksertifikaat sou verwerf.

“Daarvoor het ek egter nie kans gesien nie. Ek het iemand by Naudés-prokureurs, wat deesdae Phatshoane Henney-prokureurs is, genader en vertel van my droom. Die firma het ingestem dat ek vir ‘n ruk lank sy-aan-sy met een van sy prokureurs kon werk en so ondervinding kon opdoen,” sê Chinner.

So het sy droom om eendag ‘n regsberoep te volg, begin vorm aanneem. Skaars ses maande in sy “internskap” by Naudes-prokureurs, het hy by die Vrystaatse Universiteit se regsfakulteit aansoek gedoen om as LLB-student toegelaat te word.
Op grond van die ervaring wat hy opgedoen het, is toelating aan hom toegestaan, maar met uiters streng voorwaardes. As hy byvoorbeeld ‘n module sou druip, kon sy toelating summier opgeskort word.

Chinner sou egter nie ‘n voet verkeerd sit en so ‘n gulde geleentheid deur sy vingers laat glip nie. Hy het behoorlik skouer aan die regswiel gesit en sy graad met lof verwerf. Daarna het hy diens gedoen by die UV se regskliniek en ‘n welkome werkie as dosent by die Departement Privaatreg losgeslaan.

Ronald Chinner skud blad met Appélrregter Rowan Wilson op die dag wat hy (Chinner) amptelik tot die New Yorse balie toegelaat is.

“Dit het my gehelp om die tweede deel van my 10 jaar-plan in werking te stel. Ek het my wense in ‘n brief aan die New Yokse balie uitgespreek, en tot my verbasing ‘n positiewe reaksie gekry.

“Daarna moes ek ‘n aanlyn-kursus van 18 maande voltooi en vyf moeilike eksamens van twee tot vier ure lank oor ‘n bestek van drie jaar in Amerika gaan aflê. Ek het seker gemaak ek is voorbereid deur 60 ure ‘n week te studeer en 2 200 kort vrae en 600 lang vrae van vorige eksamens te oefen,” sê Chinner.

Hoewel die navolging van sy droom met groot persoonlike opoffering gepaard gegaan het, is Chinner nie vir een oomblik spyt nie. Hy vertrek vandeesweek na Dubai waar hy hoop om ‘n werk los te slaan by ‘n vooraanstaande Amerikaanse prokureursfirma, en hy die voorreg het om die gesogte benaming “Esquire” by sy naam te voeg.

Glad nie sleg vir ‘n Bloemfonteinse jong man wat nooit matriek geslaag het nie… – Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za