Die Mangaung-metro-munisipaliteit vaar swak in vergelyking met ander metro-munisipaliteite en het in ‘n finansiële volhoubaarheidstoets minder behaal as die agt metro-munisipaliteite se gemiddelde indekspunt van 53 uit 100. Dit is volgens Ratings Africa se indeks, wat munisipaliteite in rangorde van finansiële volhoubaarheid plaas. Volgens dié indeks gaan munisipale dienslewering, ongeag verwagtinge, nie verbeter ná die plaaslike verkiesing in Augustus vanjaar nie omdat ongeveer 60% van munisipaliteite in die land in ‘n finansiële verknorsing is.
Volgens dié rangorde het die Mangaung-metro 38 indekspunte behaal, net 14 punte meer as die Tshwane-metro-munisipaliteit, wat die swakste gevaar het. Kaapstad, wat die hoogste indekspunte (75) behaal het, is gevolg deur Buffalo City-munisipaliteit (wat Oos-London insluit) wat 73 behaal het. Hierdie rangorde dui daarop dat die helfte van die agt metro-munisipaliteite in die land finansiële probleme ondervind en dat ‘n verandering in politieke leierskap ná die verkiesing min beweegruimte sal hê sonder die nodige finansies om dienslewering te verbeter.
Die indekspunte kom ten spyte van die Mangaung- Uitvoerende Burgemeester, Thabo Manyoni, se aanduiding dat die munisipaliteit geen agterstallige Eskom- of BloemWater-rekening het nie. Verskeie munisipaliteite in die Vrystaat se staatstoelae is aan die begin van die 2015/16-boekjaar deur die nasionale tesourie teruggehou weens mijoene rande se uitstaande skuld vir water en elektrisiteit aan genoemde instansies. Manyoni het verlede maand tydens ‘n mediakonferensie gesê dat die munisipaliteit se finansiële volhoubaarheid met rasse skrede verbeter het en dat, met die uitsondering van een of twee voorvalle, die munisipaliteit nie gebuk gaan onder protesaksies oor swak dienslewering nie en vir die afgelope twee agtereenvolgende boekjare ‘n ongekwalifiseerde ouditverslag het.
Manyoni sê een van die munisipaliteit se grootste uitdagings is die groeiende armlastige register. Hy sê weens die groeiende werkloosheidsyfer het dié register die munisipaliteit in die vorige boekjaar sowat R300 miljoen gekos. – Cathy Dlodlo
[email protected]
Date:







