Land se voorste atlete in aksie by Maselspoort

0
231
Die melkbaard, Jamie Riddle, kan vir 'n groot opskudding sorg by Maselspoort FOTO: TOBIAS GINSBERG

Die land se voorste driekampatlete sal vandeesweek in Bloemfontein ‘n draai maak vir die 2021- Suid-Afrikaanse Nasionale Driekampkampioenskappe wat by Maselspoort sal plaasvind.

Vir ‘n vyfde jaar in ‘n ry sal die geleentheid in die Rosestad plaasvind, maar vanjaar is van die grootste name in die sport na Modderrivier gelok, en dit beloof om een van die opwindendste kampioenskappe in jare te wees.

Hoewel die groot kanon, Richard Murray, nie sal deelneem nie aangesien hy in Nederland is, sal die Olimpiese bronsmedaljewenner van 2016 en Statebond-gouemedaljewenner van 2018, Henri Schoeman, wel in askie wees.

Schoeman is sonder twyfel een van die trekpleisters vir die geleentheid, maar dit is nie ‘n gegewe dat hy ‘n nasionale titel sal inpalm nie. Dié boorling van Vereeniging sal strawwe kompetisie hê in die Elite-afdeling vir mans, met die tweemalige Xterra-driekamp-wêreldkampioen en voormalige Ironman-wenner, Bradley Weiss, wat ook sy staal sal wil toon.

Bo en behalwe die twee gesoute atlete, sal die legendariese Matt Trautman, wat al vele male op die Ironman-podium sy verskyning gemaak het, ook deelneem, terwyl die opwindende melkbaard, Jamie Riddle, ook ingeskryf het. ‘n Kenner is van die mening dat Riddle wel die atleet kan wees om dop te hou, en hy kan maklik vir ‘n opskudding sorg.
Weiss, wat nege jaar laas aan die kampioenskappe deelgeneem het, het aan Bloemfontein Courant gesê dat die spesialisatlete taai kompetisie sal wees.

“Dit is ‘n vele jare sedert ek laas aan die nasionale kampioenskap deelgeneem het. Danksy Covid kan langbaanatlete soos ek ons aan die die kortbaanatlete meet. Henri Schoeman, Jamie Riddle en die meer ITU-spesialisatlete sal sonder twyfel hul stemme wil dik maak.”

Schoeman het op sy beurt vir Bloemfontein Courant het gesê weens Covid-19 is die byeenkoms “non-drafting” en saam met die prysgeld op die spel danksy die PTO (Professionele Driekampatleetvereniging), is daar ‘n groter verskeidenheid atlete. Dit sal alles meer opwindend maak.

“Weens Covid-19 het hulle dit ‘n “non-draft” gemaak en dit is meer opwindend, want ons het ook die ondersteuning van die PTO. Hulle het prysgeld op die spel geplaas en dit het al die driekampatlete in Suid-Afrika gelok. Dit sluit in die langbaan- en kortbaanatlete in, dus is dit ‘n ordentlike Suid-Afrikaanse kampioenskap wat baie meer kompeterend sal wees. Dit is baie meer opwindend en uiteindelik ook ‘n bietjie meer kompetisie.”

Die 21-jarige Riddle het al vir ‘n geruime tyd saam met die hardebaarde geblaf en van tyd tot tyd ‘n les of twee geleer. Riddle is van mening dat die Olimpiesestandaard-driekamp sy brood en botter is, en hopelik kan hy nou vir manne soos Trautman en Weiss wys waartoe hy in staat is.

“Laat verlede jaar ná my seisoen het ek ‘n half-Ironman gedoen en ek is vinning op my plek gesit. Dit wiel het nou gedraai en die manne gaan nou deelneem in die afstand waarvan ek hou, en nou is dit my beurt om van húlle stil te maak.”

Die grootste naam om die Elite-dames is Engeland se Emma Pallant wat haarself telkemale regoor die wêreld bewys het.

Die Elite-atlete sal meedig in ‘n 1500m-swem, 40km-fietsry en 10km-hardloop.

Die nasionale driekamp-kampioenskappe sal Saterdag en Sondag plaasvind. Die verskeie ouderdoms- en para-atlete-afdelings sal Saterdag in aksie wees, terwyl die Elite-afdelings Sondag om 11:00 begin.

Weens die Covid-19 pamdemie sal geen toeskouers toegelaat word nie.

Die elite-atlete:

Mans – Henri Schoeman, Matt Trautman, Bradley Weiss, Jamie Riddle, Cameron MacNair, Adriaan Albert Myburgh, Mattew Nordengen-Corris, Dylan Nortjé, Nick Quenet, Christiaan Stroebel, Pieterjan van der Merwe, Ruan van Zyl, Divan du Plooy, Sebastian Pahl, Herbert Peters.

Vroue – Emma Pallant, Shanae Williams, Tegan Gore, Georgia Grobler, Hannah Newman, Magda Nieuwoudt, Julika Pahl, Cindy Schwulst, Bridget Theunissen, Natia van Heerden, Annah Watkinson. – MORGAN PIEK