Gousie gaan krieket speel in Amerika

0
455
Die VKB Knights kolwer, Andries Gous, nadat hy 'n vyftigtal teen die Cape Cobras in Bloemfontein gemoker het. FOTO: GALLO

Die VKB Knights- en Vrystaat-kolwer, Andries Gous, sal sy tasse pak om sy loopbaan in die VSA voort te sit.

Twee van sy voormalige Knights-spanmaats, die naatboulers Shadley van Schalkwyk en Corné Dry, het onlangs ook die besluit geneem om Major League-krieket in Amerika te gaan speel, en hulle is vir ‘n geruime tyd reeds oorsee.

Gous het aan Bloemfontein Courant gesê dat hy daarna uitsien om weer saam met Van Schalkwyk spanmaats te wees.

“Baie opgewonde oor die verhuising na die VSA. Dit is ‘n groot een vir my en my gesin; ons trek basies na die ander kant van die wêreld.

“Tog is ons baie opgewonde oor wat vir ons wag. Dit was ‘n massiewe en moeilike besluit vir ons, maar ons het gevoel dat dit ‘n geleentheid is wat jy nie kan laat verbygaan nie.

“Twee van my voormalige spanmaats, Shadley van Schalkwyk en Corné Dry, is reeds daar. Gelukkig speel ek en Shadley vir dieselfde span in Seattle, so daar is ten minste ‘n vriendelike gesig wat ek elke dag daar sal sien.”

Gous, wat vir Suid-Afrika onder-19 verteenwoordig het, het by gevoeg dat as die geleentheid kom om vir Amerika te speel, dit beslis iets sal wees waarna hy sal kyk.

“Jy weet nooit wat oor ‘n paar jaar kan gebeur nie, maar ek weet dat daar volgens die Internasionale Krieketraad en die VSA sekere reëls is wat jy moet volg om te kwalifiseer.

“Ons moet net wag en kyk wat ná ‘n paar jaar kan gebeur.

“Ek wil vir eers net soveel lopies as wat ek kan daar gaan aanteken. In dié stadium is die belangrikste ding om krieket in die VSA te help verbeter. ” – MORGAN PIEK