Inwoners van Groenvlei is bekommerd oor aanhoudende kragonderbrekings en sê dit ontwrig hul daaglikse lewens en beskadig hul elektriese toestelle.
Die ontevrede inwoners sê die gereelde onderbrekings maak dit moeilik om te werk, om hul huishoudings te bestuur en om ’n goeie lewensgehalte te handhaaf.
Hulle beweer ook die probleem is al verskeie kere by Centlec aangemeld met min verbetering. In reaksie hierop het Centlec se waarnemende woordvoerder, Tseliso Leba, verduidelik die gebied is uitgestrek en krag word deur die Tempe DC- én Van Blerck-netwerke voorsien. Hy sê bogrondse infrastruktuur is veral kwesbaar vir weerverwante skade.
“Die voorvalle op die Reyneke kragvoerder dui op veelvuldige en sensitiewe aardfoute, waarskynlik veroorsaak deur plantegroei.” Leba het bygevoeg Centlec het inspeksies gedoen om foute te identifiseer en herstelwerk deur middel van geskeduleerde instandhouding het begin.
“Sodra foute opgespoor word, word beplande onderbrekings geskeduleer sodat tegnici veilig herstelwerk kan doen … om die elektrisiteitsvoorsiening te stabiliseer.”
Leba het verder verduidelik onderbrekings word deur interne stelsels gekommunikeer en dan op verskeie platforms, insluitend sosiale media, met wykraadslede, die media en inwoners gedeel.
Om die probleem op te los het Centlec onmiddellike én langtermyn-ingrypings ingestel. Dit sluit in die installering van veiligheidskakelaars op kragpale, beter bestuur van plantegroei langs kraglyne, die vervanging van foutiewe stroombrekerkomponente en ’n volledige netwerkoudit om te verseker dat outomatiseringstelsels korrek ingestel is.
Clement Matroos
[email protected]







