Ons is in die hartjie van die winter in die Vrystaat. Kaggelvure en verwarmers met ’n stomende koppie sop. Die sjerrie is ook nie ver weggebêre nie. Tog het dit my laat dink aan die storie van die ou dame wat met verflenterde klere in die koue van Chicago rondgeloop het. By die moltreinstasie het sy op die trein geklim om na ’n ander deel van die stad te reis. Langs haar het ’n netjiese jongman, op die oog af met baie geld, gaan sit. Hy het haar koue hande vir ’n ruk dopgehou en by die volgende stasie afgeklim. Op die skoot van die ou dame het sy duur leerhandskoene agtergebly. Hy het die handskoene op haar skoot gelos sodat sy nie verder moet koud kry nie, sonder dat sy daarvan bewus was. Niemand weet of hy gelowig was of nie, maar hy het haar nood raakgesien. Hy het omgegee soos Jesus in Matteus 20:34 dit beskryf: “Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak.” Met trane in sy oë het Jesus omgegee vir jou en my. Uiteindelik het Hy net kom sê: “Volg My.” Onmiddellik het dit my aan die verhaal van die ou dame laat dink en ek het dadelik verstaan hoekom die handskoene agtergebly het. Wat sou ek en jy gedoen het?
Ds. Stephan van Heerden







