Goeiedag
“Kêrels, julle weet ek is nie ’n dwars ou nie, maar…” Voordat Bontie Bonthuys nou sy sin kon voltooi, bars die ander manne uit van die lag en begin ons indaba op ’n vroliker noot as gewoonlik.
“Manne, ek is ernstig en wil oor ’n ernstiger sake as net rugby gesels,” hou Bontie vol daar uit die Kaap.
“Die verklaring van ons minster van sport, Fikile Mbalula, steek my dwars in die krop. Die gepolitiekery in sport moet end kry. Ek wonder of hy na die nasionale swemkampioenskappe in Durban gekyk het? Waar gaan hy 60% swart swemmers kry om ’n Suid-Afrikaanse swemspan na die Statebondspele in Glasgow, Skotland te stuur. Dieselfde geld ook vir ons beste atlete. Dit is wonderlik dat Simon Magakwe uiteindelik die eerste Suid-Afrikaner geword het om die 100 meter in vinniger as 10 sekondes af te blits. Hy het dit met ’n tyd van 9.98 op die SA senior kampioenskappe in LC de Villiers-stadion in Pretoria vermag, maar Magakwe maak nie 60% van die SA atletiekspan uit nie,” hou Bontie vol.
Dit is water op die meul van die ander manne. “Ja, ek het juis gedink nadat onse Frikkie vroeër vanjaar sy mond so oor die Bafana Bafana uitgespoel het, sal hy by sokker begin verander. Gaan die Suid-Afrikaanse sokkerspan, wat 66ste op Fifa se ranglys is, voortaan met 40% nie-swart spelers op die veld draf? Ek betwyfel dit sterk,” lug Sporie Bezuidenhout sy mening.
“Manne, moet nie te haastig raak nie. Kom ons word liewer opgewonde oor ons swemmers en veral Chad le Clos, Karin Prinsloo en die ander sewe wat hulle vir die Statebondspele gekwalifiseer het. En op die atletiekbaan was daar uitmuntende vertonings deur Magakwe, Sunette Viljoen, Jerry Motau, Wayde van Niekerk, Cornel Fredericks, Rikenette Steenkamp, Chris Harmse en talle ander. Dit gee my weer ’n warm gevoel,” probeer Botterbul Bester paai.
“Watwou warmte. Die Haaie is die enigste SA rugbyspan wat ’n sege in die Superrugbyreeks kon behaal en net Louis Oosthuizen van die ses Suid-Afrikaners wat gespeel het, het vir die finale twee gholfrondtes van die Amerikaanse Meesters kwalifiseer. Ek is bekommerd oor ons sport en onse Frikkie moet sy aandag toespits waar daar werklik probleme is. Soos deur velde, bane en geriewe te voorsien sodat sport deur almal beoefen kan word. Hy moet liewer internasionale tennis en atletiek terug in ons land kry en vergeet van kwotas wat nie sport bevorder nie,” sê Stywelip Carrington.
“Ja en ek het hier in die Vrystaat min om oor opgewonde te raak. Gelukkig het Jbé Kruger die Zimbabwe Ope gewen, maar oor ons Cheetahs praat ek liewer nie,” brom Oom Sjert en dit sit al die manne aan die dink.
Groetnis.







