
‘n Groep barmhartige Samaritane van Heidedal het op Saterdag 9 Desember ‘n Kerspartytjie vir die minderbevoorregte kinders van die gemeenskap gehou. Caring Hands het ongeveer vyf jaar gelede begin toe Elaine Lottering en haar span die behoefte gesien het om minderbevoorregte kinders van die omgewing liggaamlik en geestelik te voed.
“Ek het in Heidedal begin sop uitdeel uit my kar se kattebak, oorkant Long Island. Ek het 80 kinders begin voed en so het my passie vir liefdadigheidswerk begin. Ek kon jaar na jaar volhou met die donasies wat ek ontvang van my bediening,” vertel Lottering. Die doel van die sopkombuis is om te voorsien in die voedingsbehoeftes van kinders in benadeelde gemeenskappe. “Nie net om hulle liggaamlik te voed nie, maar ook om hulle deel te laat voel van Caring Hands se omgee, dat daar vir hul harte omgegee word. Caring Hands glo dat kinders die toekoms van ons land is.”
Die jaareindpartytjie van die sopkombuis vir die behoeftige kinders van Karel Botmanstraat, Opkoms en Gatvol in Ashbury is gehou om die kinders ‘n vroeë Kersfeesgevoel te gee. Lede van Caring Hands het vir hulle ‘n lekker braai gehou en lekkernye uitgedeel.
Gedurende die jaar word daar elke Dinsdag aan sowat 120 kinders sop en brood gegee. “Ons wil graag meer dae van die week uitdeel, maar weens ‘n gebrek aan borge en fondse kan ons nie,” sê Lottering. Op die oomblik het hulle twee borge, House of Zion Grasland en die sakeman, Gert Goodman, wat elke maand ‘n bydrae lewer.
Caring Hands is dankbaar teenoor Edward Sanderson, Roxy Clarke, Eddie louw, Lynn Colbert, Viaan van Heerden, Xenadeen Maasdorp, Helen Maasdorp Henny Mokhampanyane, Kenon Bergman, Deon Lottering en pastoor Elaine Lottering vir hul bydrae tot die sukses van die partytjie.
PIERCE VAN HEERDEN
pierce@mahareng.co.za