Die bedrag wat ingesamel is vir Janique Venter, die dogtertjie wat op ses-maande-ouderdom met neuroblastoma gediagnoseer is, is ongelukkig steeds nie genoeg om Janique na Houston, Texas te stuur vir behandeling nie. Die geld is ingesamel met ‘n vertoning waartydens Demi Lee Moore as hoofkunstenaar opgetree het.
Nadine Mukheibir, Janique se ma, het aan Bloemfontein Courant gesê dat die Covid-19-regulasies hulle verhoed het om enige verdere geldinsamelings te hou, maar dat hulle steeds hoopvol is en alles in hul vermoë doen om die volle bedrag in te samel.
“Janique is ‘n slim klein dogtertjie wat elke dag glimlag, hoe sleg haar situasie ook al mag wees. Niks kry haar onder nie en dit is wat ons positief hou,” sê Mukheibir.
Sy voeg by dat, ongeag haar toestand, Janique steeds goed eet en drink en die dokter eenkeer ‘n maand besoek om bloed te laat trek, haar chemo-inspuiting te kry en haar pille wat sy tuis moet gebruik, te ontvang.
“Ons verstaan nie altyd waarom hierdie ding met haar gebeur het nie, maar God het ons met ‘n pragtige babadogtertjie geseën wat elke dag vir so baie mense hoop gee,” vertel Mukheibir.
Bloemfontein Courant het voorheen berig oor die behandeling wat Janique moet kry. Dit word genoem antineoplaston (ANP), ‘n binneaarse behandeling wat byna iets soos nie-orientasie-terapie is. Ongelukkig kan daar nie op haar geopereer word nie. Die gewas is om die hoofslagaar in die nek gevestig en die bloedvate na die brein maak dit ‘n lewensbedreigende operasie.
Janique benodig steeds geld vir haar behandeling en het ‘haar eie’ Facebook-blad, Hulp en Gebede vir Prinses Janique/ Help and Prayers for Princess Janique.
Enige persoon wat graag op enige wyse wil bydra, kan Mukheibir by 062-912-0864 of via bogenoemde Facebook-blad kontak.
Heidre Malgas
[email protected]







