Bfn-leerders benodig hulp met vervoer

0
926
Uitvoerende hoof en stigter van Guardian and Angel, Hester Bekker

Guardian and Angel, ‘n nie-winsgewende organisasie in Bloemfontein, het aan die begin van 2021 begin om die lewens van kinders te verbeter.

Die organisasie vra die gemeenskap om te help nadat hulle hande gevat het met die Primêre Skool Dealesville, en aan 30 minderbevoorregte kinders ‘n kans wil gee op ‘n beter lewe en dit vir hulle moontlik wil maak om op skool te presteer.

Die uitvoerende hoof en stigter van die organisasie, Hester Bekker, het aan Bloemfontein Courant vertel dat hulle vir behoeftige kinders, wat hoofsaaklik uit Bloemfontein kom, ‘n heenkome by die skool in Dealesville wil gee.

Sy verduidelik dat die skool vir dié 30 kinders stabiliteit en ‘n vol maag kan bied, maar daarvoor is hulp nodig, dus word daar ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om hul harte oop te maak.

“Die grootste behoefte is tans ‘n bussie, aangesien die kinders elke Maandag en Vrydag tussen Bloemfontein en Dealesville vervoer moet word. Daarsonder is dit nie moontlik vir die kinders om koshuis toe te gaan nie.” Sy sê daar is vir die skool ‘n geleentheid om ‘n bussie van ‘n ander skool te koop, maar dat hulle R50 000 kort.

Volgens Bekker kan mense wat graag wil help, ‘n eenmalige of maandelikse borgskap van R50 per kind bydra, wat baie welkom sal wees. ‘n Donasie om kinders te borg, kan regdeur die jaar geskenk word, maar die sperdatum vir die bussie se geld is 7 Februarie 2021.
Ander artikels, van ‘n potlood tot skryfboeke, fotostaatpapier en ander skoolbenodidgdhede, sal ook help om ‘n verskil te maak.

“Ons as Guardian and Angel is lank reeds aktief betrokke by die gesinne en ons het gevoel dit is ‘n goeie geleentheid om hierdie kinders te help, dus die besluit om betrokke te raak.”
Die skoolhoof van Dealesville Primêr, Johann Smit, kan gekontak word by 081-006-9589, en vir inligting kan mense die Guardian and Angel se Facebook-blad besoek.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za