Joernalis se nagmerrie op sosiale media

0
771

Sosiale media is jare reeds deel van ons samelewing. Deesdae gebruik elke Jan Rap en sy maat egter hierdie platform nie net om kontak met familie en vriende te hê nie, maar ook om kattekwaad aan te vang en mense soms selfs leed aan te doen.

Bloemfontein Courant het met Lani Fouché, redaktreur van Get It-tydskrif, gesels oor die stel wat sy en haar gesin in die laaste twee maande afgetrap het.

Fouché en haar naaste familie, wat haar ma en oupa insluit, was al drie slagoffers van of kuberbekruiping, of pornografiese foto’s en eksplisiete boodskappe op WhatsApp gestuur deur onbekende persone en nommers.

“Die afgelope twee maande is drie van ons van dieselfde familie deur sosiale media te na gekom,” het Fouché vertel.

Haar ma was die ergste getraumatiseer toe sy eendag boodskappe van ‘n vreemdeling ontvang het wat haar gedreig het om vervalste pornografiese beeldmateriaal van haar aan haar vriende en familie te stuur as sy hom/haar nie ‘n sekere bedrag geld betaal nie. Gelukkig het sy nie vir sy skelmstreke geval nie. “Dit is toe dat dit erger raak. Hy het haar op WhatsApp, per e-pos, én op haar selfoon gekontak. Hy het haar begin dreig met haar kinders en kleinkinders. Hy het foto’s aan haar gestuur van ons kinders en het presies geweet waar ons woon.”

Interpol het betrokke geraak en het die skuldige persoon tot in Ghana nagespeur. “My ma het ‘n redelike bedrag geld verloor, al haar sosialemedia-profiele toegemaak en haar nommer al twee keer verander. Hy probeer ons steeds bereik deur van ons vriende op Facebook en Instagram te dreig met boodskappe. Dis ‘n absolute nagmerrie,” het Fouché vertel.

Ná dié traumatise ervaring, kom eers Fouché en daarna haar oupa onder skoot. Fouché het skuins na middernag op 15 Januarie boodskappe op WhatsApp ontvang. Sy het met ‘n skok ontdek dat dit foto’s van ‘n persoon se private dele is, gepaard met ‘n boodskap waarvoor sy haar boeglam geskrik het. “Ek het dadelik my selfoon vir my man gegee, waarna hy die selfoonnommer geblok het en ten minste seker gemaak het die foto’s is nie meer op my selfoon nie.”

Toe gebeur dieselfde met haar 87-jarige oupa wat in Kaapstad in ‘n aftreeoord woon. Hy het pornografiese foto’s van ‘n onbekende nommer, wat blyk ‘n vrou te wees, ontvang. Fouché vertel dit was vir hom ‘n geweldige skok.

Sulke voorvalle wys dat ‘n mens van enige ouderdom, geslag of ras, ‘n slagoffer kan word van die soort misdaad.

Wanneer sulke dinge met jou of familie en vriende gebeur, moet jy altyd paraat wees en vinnig optree. Fouché het ‘n paar wenke gegee oor hoe om op te tree teenoor dié mense. “Probeer so vining moontlik die persoon op WhatsApp blok sodat hulle jou nie weer kan bereik nie. Tweedens is die Truecaller-toep wat jy kan aflaai, baie behulpsaam. Dit dui aan wie die persoon is en of die persoon gemerk is as spam. Jy moet ook seker maak al jou voorkeure op sosiale media is op privaat gestel sodat vreemdelinge nie op jou profiele kan rondkrap nie. As jy voel jy is ‘n werklike teiken van misdaad, moet jy so gou moontlik die polisie kontak en betrokke kry. Daar is ‘n paar lede in die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat regtig weet hoe om met kubermisdaad te werk.” – Jeretha Oosthuizen jeretha@mahareng.co.za