‘n Feestelike atmosfeer het geheers en die wedstryde het vir groot opwinding gesorg.
Die wedstryd onder die skoner geslag het stadig begin, maar teen die einde van die eerste helfte in ‘n goeie wedstryd ontaard. Die oudleerlinge was uiteindelik net te sterk vir die eerstespan en het met 1 – 0 gewen.
Die ‘tweestryd’ tussen die twee susters Janke en Anja Kotzé was ‘n lus vir die oog. Janke speel tans vir die Kovsies se eerstespan en sover vasgestel kon word was Anja elke jaar sedert sy in JF is, ingesluit in Suid-Vrystaatse hokkiespanne.
Die seuns (en manne) het skitterende hokkie gespeel. Die JF- ‘ou manne’ het egter te veel skietgoed gehad vir die skool se eerstespan en met 5 – 3 geseëvier.
Al die vorige kapteins van die eerstespan het deelgeneem aan die feeswedstryd. JF se seunshokkie het eers in 2007 begin en veral sy kaptein van 2014, Roeland Schoembie, het uitgeblink.
Al die kapteins vandat seuns hokkie by JF begin het. Van links: Willie Kruger (2015), Roeland Schoombie (2014), Zirk Coetsee (2013), Hanco Buys (2012), Pierre Rocher (2011 en 2010), Magnus Buys (2009) en Pierre Scheepers (2008 en 2007).
Die skoolhoof, Schalk Malherbe, het na die afloop van die dag se aktiwiteite aan Courant vertel dat dit ‘n ‘onmoontlike’ droom waar geword het met die opening van die splinternuwe astrobaan.
“Vier jaar gelede het die beheerliggaam en die skool ‘n strategiese beplaningsessie gehad. Almal het toe hul drome op die tafel gelê. Een van ons drome was die astrobaan, en hier sit ons vandag.”
Voorsitter van die beheerliggaam, Pieter Kotze sê die baan sal gebruik word om Jim Fouché se hokkiespelers en die gemeenskap as geheel te ontwikkel.
“Die idee was om hierdie baan tegnies korrek te bou. Die groei van Bloemfontein se hokkie is vir ons baie belangrik. Dit gaan oor hokkie in die Vrystaat. Hoe beter die skole is, hoe beter is dit vir ons universiteite en vir ons provinsie.”
Rufus Botha & Mark Steenbok







