Die Sentrale Universiteit van Tegnologie Ixias het hul 2025 Varsitybeker veldtog op ’n hoë noot afgeskop met ’n uitstaande bonuspunt-sege teen die Universiteit van Johannesburg in die Goudstad, terwyl die verdedigende kampioene, die Universiteit van die Vrystaat Shimlas in die Eikestad teen die Universiteit van Stellenbosch Maties vasgeval het.
By die Danie Craven-stadion het die Maties die swak gedissiplineerde Shimlas met 41-37 getroef in ’n wedstryd wat die besoekers kon wen. Die Shimlas het nie minder nie as vier geelkaarte afgestaan, en hulle sal hieraan aandag wil gee voordat hulle Wits volgende week die stryd aansê.
Terwyl die Shimlas se dissipline nie op standaard was nie, was Maties aan die ander kant van die muntstuk gelukkig om nie ’n enkele geelkaart te kry nie, veral nadat hulle herhaaldelik strafskoppe in die gevaarsone afgestaan het toe die span van Bloemfontein op die aanval was.
Die span van Bloemfontein sal moed skep uit die feit dat hulle aanhou baklei het tot die bitter einde. Met ’n bietjie geluk aan hul kant kon hulle dalk ’n oorwinning behaal het op ’n veld wat ’n vesting vir Maties-rugby is.
Maandag om 19:00 draf die Shimlas teen Wits uit op Shimlapark in Bloemfontein.
In Johannesburg het Ixias vir UJ met 29-13 in emmerreën geklop. Ixias het die druk van die begin af toegepas en in die moeilike weer ’n goeie voorsprong gebou ná drieë deur Jan-Hendrik Bessenger en Tokelo Ntaopane, wat die besoekers rustyd met 14-3 laat voorloop het.
Terwyl UJ in die tweede helfte baie beter was, is die skade vroeg in die wedstryd aangerig, en Ixias is met vyf punte in die sak terug Bloemfontein toe voordat hy volgende week tuis teen die Universiteit van Kaapstad te staan gekom het.
Die Ixias se voorspeler-afrigter en voormalige Springbok-stut, Ollie le Roux, het aan Bloemfontein Courant gesê hy is trots op sy spelers se poging, hoewel daar baie verbeteringe gemaak moet word.
“Ek is baie tevrede met die oorwinning – vyf punte in die sak is reeds ’n groot prestasie,” sê Le Roux.
“Die toestande was aaklig, maar Goddank, die boere het hierdie reën nodig, en dit het die voorspelers darem koel gehou. Ons het die toestande redelik goed hanteer, en ek dink ons het ’n paar oomblikke gehad waar ons baie beter kon gewees het. So, daar lê nog baie harde werk voor ons. Maar ek dink ons span begin mooi vorm aanneem.”
Maandag om 19:00 pak die Ixias vir UCT by die CUT-stadion in Bloemfontein.
Puntemakers:
Maties: Drieë – Elridge Jack (sewepuntdrie), Grant de Jager, Luan Botha, Armand Combrink, Joel Leotlela (sewepuntdrie), strafdrie. Doelskop – Christiaan van Heerden-Smith Stafskop – Van Heerden-Smith
Shimlas: Drieë – Kirwin du Preez (2 sewepuntdrieë), Henri van Heerden, Dubs Dlamini, Stiaan Genis. Doelskoppe – Bradley Giddy 4
UJ: Drieë – Adriano Jackson, Liam Rowan. Strafskop – Mihle Matinise
CUT: Drieë – Jan-Hendrik Bessenger, Tokelo Ntaopane, Devinto Vergotine, Juan Smith, Malcom Lamont. Doelskoppe – Juan Smith 2
MORGAN PIEK







