Is jou Kersseisoenfonds in plek?

0
Is jou Kersseisoenfonds in plek?

Horace Terry
Jaar na jaar vier Suid-Afrikaners die Kersseisoen op skuld, hetsy met ‘n persoonlike lening, of ‘n kredietkaart. Die gevolge hiervan is soortgelyk aan die van ‘n babelaas, die lekkerte is van korte duur, en die nagevolge langdurig en aaklig. Gewoonlik spandeer ons in die Kersseisoen meer as wat ons moet, ons spandeer geld op onbenullighede, baie daarvan op skuld. Verder vergeet ons dat die skuld weer terugbetaal moet word. Wat gebeur dus vroeg in die nuwe jaar? Jy kom agter daar moet skoolklere en ander skoolbenodigdhede gekoop word, of studiekoste moet betaal word, en natuurlik is die ekstra paaiement van die persoonlike lening of kredietkaart waarmee jy vakansie gehou het ook nou nog by. Vinnig, vinnig is jou huishoudelike begroting in ‘n knoop en die syfers klop net nie. Die nare effek van so ‘n situasie is dat jy nou vinnig in ‘n skuldspiraal vasgevang kan word, want nou begin jy een kredietkaart met ‘n ander een te betaal, of jy gaan nog ‘n lening aan om die eerste een mee te betaal. Dit sal dus dalk wys wees om vroegtydig te begin voorsiening maak vir die Kersseisoen se ekstra uitgawes. Begin dus om maandeliks ‘n paar rand eenkant te sit. Jy kan selfs ‘n deel van jou bonus ook wegsit en sodoende het jy kort voor lank ‘n paar rand op kort kennisgewing beskikbaar. Dis nou alreeds Julie, en Desembermaand kom baie vinnig nader. Dis egter nie te laat om nou te begin spaarnie. Elke bietjie gaan help. Probeer dalk so ietsie ekstra wegsit. Wat egter baie belangrik is, is om nie in die nuwe jaar op te hou met die spaarpoging nie, maar om dit eerder ‘n gewoonte te maak en binnekort sal jou Kersseisoen-vieringe met kontant gefinansier kan word en sal die nuwe jaar nie finansiële druk op jou begroting plaas nie. Die beste roete om te volg sal wees om vir jou ‘n Geldmarkbelegging in plek te sit, en outomaties met ‘n debietorder geld daarin weg te sit, en as daar na ‘n paar jaar dalk ‘n oorskot fondse opgebou het kan jy dalk ‘n deel daarvan na ‘n ander tipe effektetrustbelegging kanaliseer.

* Terry is ‘n gesertifiseerde finansiële beplanner en beleggingsadviseur by Nassaux Blouster.

No posts to display