Bloemfontein Courant het onlangs ’n aanlyn Valentynsdag-kompetisie aangebied waarin lesers uitgenooi is om te vertel hoekom hul lewensmaat ’n spesiale verrassingsgeskenk verdien. Een inskrywing was veral treffend.

FOTO: CLEMENT MATROOS
Die wenner, Hennie Botha, het sy vrou, Suanita, soos volg beskryf: “Super nurse, super mamma, super vrou… dis maar net ’n klein beskrywing van my beste vriendin.” Suanita werk al jare in die Mediclinic Bloemfontein se intensiewesorg-eenheid en bring haar Valentynsdae, Kersdae, Paasnaweke en ander spesiale dae aan diens deur – sodat ander mense saam met húl geliefdes kan wees.
Vanjaar is geen uitsondering nie: Sy was weer aan diens vir ’n 12 uur-skof Dinsdag (10/2), en werk ook die hele Valentynsnaweek. Volgens Hennie is Suanita uiters onbaatsugtig en stel sy altyd ander se behoeftes bo haar eie. “ ’n Dankie in haar beroep is baie skaars,” het hy geskryf. “Maar sy deel daagliks ’n oorvloed liefde uit aan haar medemens.”
As ekstra spesiale bonus vier die egpaar ook op 26 Maart hul 21ste huweliksherdenking, wat hierdie verrassing nóg meer betekenisvol gemaak het. Bloemfontein Courant en Hennie het Suanita Dinsdag by haar werk verras om haar Valentynsgeskenk te oorhandig. Sigbaar emosioneel het sy gesê: “Ek het so ’n moeilike dag gehad, en julle het my dag gemaak.” ’
n Ware herinnering dat liefde soms in stilte werk – in 12 uur-waakeenheidskofte, op spesiale dae, en met ’n hart wat altyd eers vir ander klop.







