Immortals reël liefdadigheidsrit vir CHOC Huis

0
Immortals reël liefdadigheidsrit vir CHOC Huis
Die Immortals Motorfietsklub (MCC) van Bloemfontein gaan op Saterdag 24 Augustus 'n liefdadigheidsrit vir CHOC Huis hou. FOTO: VERSKAF

Die Immortals Motorfietsklub (MCC) van Bloemfontein, onder leiding van president Gerrie Smit, reël weer ’n liefdadigheidsrit om fondse in te samel vir die CHOC Huis.

Smit, wat al 14 jaar by motorfietsklubs betrokke is en die afgelope ses jaar as president dien, verduidelik dat die primêre doel is om soveel moontlik fondse in te samel.

“Elke bietjie help om ’n gaatjie toe te maak. Al die fondse van die dag word net so geskenk aan die CHOC Huis,” sê Smit.

Hy beklemtoon dat die impak van die fondse op die CHOC Huis geweldig is. “Die geld wat ons insamel, help die CHOC Huis om gratis verblyf te bied aan kinders en hul ouers wat vir behandeling na die hospitaal kom. Dit maak ’n groot verskil vir families wat afhanklik is van openbare vervoer en ander hulp.”

Kaartjies kos R100 en sluit ’n kenteken, burger en skyfies in. Kaartjies kan gekoop word by die CHOC Huis in Universitas of Econo Optometrist in die Ou DB Sentrum.

“Kaartjieverkope sluit op 16 Augustus, sodat ons kan weet vir hoeveel mense ons moet kos voorsien,” voeg Smit by.

“Die kinders se gesigte verhelder elke jaar as ons met brullende motorfietse by die hospitaal opdaag. Dit is vir ons ’n groot voorreg om iemand se dag so op te kikker,” deel Smit.

Hierdie jaarlikse gebeurtenis begin Saterdag 24 Augustus om 10:00 en die massarit is om 11:00.

Vir bykomende donasies kan mense Gerrie Smit by 072- 049-1222 of die CHOC Huis direk kontak.

 

Justine Fortuin

justine@mahareng.co.za

No posts to display