Heidedal-gesinne sonder water en toilette

0
520
Johannes Davids op die plek waar sy toilet eers gestaan het. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Inwoners van Heidedal in Bloemfontein is raadop nadat sommige van hulle steeds wag op huise wat in 2012 aan hulle beloof is.
Die Heidedal Unemployment forum (HUF) stigter en voorsitter, Benji Williams, het Bloemfontein Courant na ‘n inwoner in die area geneem wat vir amper vier jaar sukkel sonder water. Hy woon ook op die oomblik in ‘n “shack” en wag nog op die huis wat vir hom belowe is. Hy moet nou die buurt vol loop om die toilet iewers te gebruik nadat syne heeltemal in duie gestort het.
Williams het aan Bloemfontein Courant gesê toe hy twee maande gelede by hierdie huis aangekom het, was die mure rondom die toilet afgebreek en die bure kon mekaar sien terwyl hulle binne besig was. Hy sê die vervalle gebou is deur kinders in die gebied gebruik om in te sit en dwelms te gebruik.
“Ek het hierdie man se situasie aan die leierskap van die gebied gerapporteer, maar al wat hulle doen is om kom kyk en niks word gedoen oor die mense se omstandighede nie,” sê Williams.
Die eienaar van die huis, Johannes Davids, sê hy weet nie meer watter kant toe nie. Hy en sy familie is afhanklik van ander mense om water te kry en ook om die toilet te gebruik.
Een van die ander mense wat ook die toilet moet gebruik, Dawid Diamond, het aan Bloemfontein Courant gesê hulle voel nie lekker oor hoe hulle moet lewe nie. “Ek doen ook loodgieterwerk maar ek kan nie dit regmaak nie, want dit is baie erg. Ons is moeg om te wag vir die regering. Ons vra die gemeenskap om gesinne hier rond te help op enige manier wat hulle kan.”.
Attie Terblance, die DA-wyksraadslid in die omgewing, sê hy is bewus van die situasie en dat hy dit ook aan die nodige departemente gerapporteer het. Daar word tans ondersoek ingestel om uit te vind wat aan die gang is. Die Departement van Menslike Nedersettings sal kommentaar lewer oor die toestand sodra ‘n formele versoek aan hulle gestuur is. – SAZLY HARTZENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za