E Copy

Date:

Heidedal-gesin sonder identiteit se lewe is ‘n lewende hel

Formele regeringsidentifikasie is noodsaaklik om toegang te verkry tot ‘n verskeidenheid dienste, ondersteuning en geleenthede. ‘n ID is dikwels nodig vir individue en gesinne om toegang tot gesondheidsorg te verkry, ‘n woonstel te huur, ‘n bankrekening oop te maak en formele dienste te verseker. ‘n ID word dikwels beskou as nie net ‘n basiese behoefte nie, maar ‘n basiese reg, noodsaaklik vir stabiliteit, welsyn en volle deelname in die samelewing.
Sandy Josline Maria van Wyk van Heidedal, Bloemfontein, is ‘n ma van twee en ‘n slagoffer van identiteitsdiefstal. Dit het alles begin toe ‘n bank geweier het om ‘n rekening vir Van Wyk in 2009 oop te maak omdat hulle agtergekom het dat ‘n ander vrou presies dieselfde name en identifikasienommer as hare het en reeds ‘n aktiewe rekening het. Volgens Van Wyk het sy inligting ontvang dat dié vrou in Botshabelo bly.
Om sake te vererger, is Van Wyk in 2012 dood verklaar. Dit maak nie net haar lewe hel nie, maar beïnvloed ook die lewe van haar kinders wat as gevolg hiervan geen geboortesertifikate het nie.
“My dogter is in 2013 gebore en sy is nooit geregistreer nie. Ons het alles probeer. In 2012 is ek as dood verklaar. Ek het teruggekeer na Binnelandse Sake waar ek gevra het dat hulle my van ‘n doodsertifikaat moet voorsien sodat my dogter se pa haar kon registreer. Hulle kon my nie ‘n doodsertifikaat gee nie omdat ek ‘voor hulle staan’. Ek het ‘n ID wat ek nog nooit verloor of misplaas het nie. Ek hou aan om hulle te vra of daar niks is wat ek kan doen nie, want ek moet my kinders registreer sodat hulle skool toe kan gaan,” sê Van Wyk.
Sy is verskeie kere deur Binnelandse Sake na die polisiekantore van Managaung gestuur, sy het ‘n pak dokumente en afskrifte van dokumente wat deur albei afdelings aan haar gegee is, maar kon steeds nie gehelp word nie. Tot vandag toe, agt jaar later, het sy geen hulp van die Bloemfonteinse polisiekantore en die Departement van Binnelandse Sake ontvang nie. “Al wat hulle my vertel het, is dat hulle speurders aan my saak werk, maar ek het nog nie antwoorde nie.”
As gevolg hiervan lewe Van Wyk en haar familie in moeilike omstandighede. Volgens haar is ‘n lewe sonder identiteit hel. Al wat sy wil hê is dat hierdie probleem opgelos moet word sodat sy vir haar gesin ‘n normale lewe kan bied.

PIERCE VAN HEERDEN
[email protected]

Share post:

Popular

More like this
Related

UFS pianist debuts in Madrid

The University of the Free State (UFS) has celebrated...

NFVF invites applications for public screening funding

The National Film and Video Foundation (NFVF) has opened...

CUT responds to sexual harassment allegations

The Central University of Technology (CUT) has responded to...

ADVERTORIAL: Meet our team of specialists

Life Rosepark Hospital is proud to introduce a dynamic...