Ten spyte van Sondagmiddag se koue weer, het twee graad 2-leerders, Erik Cloete en Brianè van der Sandt van Reddersburg, nie twee keer gedink om ‘n skilpad in ‘n plaaslike dorpsdam te red nie.
Die twee 8-jarige leerders van Landbouskool Hendrik Potgieter, onder toesig van ses volwassenes, het die koue water aangedurf om die skilpad te red.
Volgens Yolandi Cloete, Erik se ma, het hulle geen idee hoe die skilpad in die dam beland het nie. “Toe ons hom uit die dam haal, was daar ‘n gat in sy dop geboor met ‘n stuk draad deur, so ons vermoed dat hy heel moontlik vasgebind was,” sê Cloete.
Volgens Cloete was die water bitter koud, maar dit het nie die twee kinders gekeer om die skilpad te red nie.
Sy vertel aan Bloemfontein Courant dat die skilpad dit nie deur die nag sou gemaak het as hy nie uit die water gered was nie. Ná 15 minute se gesukkel om die skilpad veilig op land te kry, is hy in die veld vrygelaat. “Ons het seker gemaak hy is oukei, en ons het hom in dieselfde veld vrygelaat waar ons hom gevind het.”
Die Reddersburg-gemeenskap het hande gevat en saamgewerk om op dié koue Sondagmiddag die skilpad, wat hulle “Lantie” gedoop het, te red. Jaco Cloete en Karla Pottas het ook ‘n handjie bygesit.
Pierce van Heerden







