Gemeenskappe oor die land heen het die naweek gewys hulle kan saamstaan en hul eie woongebiede beveilig. Daarmee saam is sigbare polisiëring die sleutel tot sukses om misdaadvrye gebiede in stede en op plattelandse dorpe te verseker. Dit is die boodskap van die burgerregtegroep, AfriForum, nadat altesaam 52 van die groep se buurtwagte en ander belanghebbendes oor die land heen aan 'n suksesvolle inisiatief om misdaad in samewerking met die polisie te bekamp, deelgeneem het. Ian Cameron, hoof van AfriForum se gemeenskapsveiligheid, sê die inisiatief, 'Operasie Misdaadvry', is die grootste nog. Meer as 3 000 mense wat onafhanklike buurtwagte, gemeenskapspolisiëringsforums en -organisasies, asook sekruteitsmaatskappye insluit, het Vrydagaand flink saamgewerk om die land se strate te patrolleer. Cameron sê meer as 61 100km is in die proses afgelê. "In die gebiede waar ons gepatrolleer het, is geen ernstige misdade gepleeg nie. Dit dui daarop dat die patrollies en gemeenskapsingryping suksesvol is." Altesaam 35 verdagtes is weens nie-ernstige misdrywe in hegtenis geneem.
AfriForum-buurtwagte in Bloemfontein het ook nie op hulle laat wag om die stad se strate te beveilig nie. Provinsiale verteenwoordiger in die Wes-Vrystaat, Johann Hattingh, het hom by meer as 30 lede van die buurtwag Wilgehof, Gardeniapark en Universitas aangesluit. Die gemeenskaplede het Vrydagaand in drie groepe om die beurt van 20:00 tot Saterdagoggend 02:00 die gebied met tien voertuie per groep gepatrolleer. Voorsitter van dié buurtwag, Natasjha Blom, sê geen ernstige voorvalle het plaasgevind nie en niemand is in hegtenis geneem nie. Dit is ’n duidelike bewys dat die sigbare patrolleringsinisiatief vrugte afwerp. Volgens Hattingh is die buurtwagte se doel om die polisie te ondersteun om misdaad te bekamp. Hy moedig lede van die gemeenskap aan om betrokke te raak en ’n positiewe bydrae tot misdaadbekamping in die land te lewer. Blom sê lede van die buurtwag het boonop Saterdag die strate in die woonbuurt ingevaar om rommel op te tel. Dit is skrikwekkend om te sien hoe inwoners hul gebied verwaarloos en bevuil. “Ek dink elke Suid-Afrikaner moet trots wees op die land en selfrespek hê om hul eie woongebiede skoon te hou.” Veral vullissakke wat onder meer deur rondloperdiere oopgeskeur word, is ’n probleem, sê sy. Die organisasie se ander buurtwagte in Bloemfontein is in Fichardtpark, Fauna, Generaal De Wet, Uitsig en Fleurdal. Hattingh sê AfriForum beoog om teen die einde van die jaar nog twee buurtwagte op die been te bring. – Christal-lize Muller
Date:







