‘n Naweek waar pasverloofdes en dames wat ‘n troue beplan raad en idees van kenners ontvang het, blyk ‘n groot sukses te gewees het. Die Free State Wedding Expo het vir die vierde opeenvolgende jaar op 18 en 19 Mei 2018 plaasgevind.
Dié twee dae het ‘n totaal van 89 uitstallers opgelewer, wat dekor, rokke, venues, fotograwe, koffie-baristas, wyne, platejoggies, videograwe, juweliers, ens. ingesluit het. Volgens Deone Gerber, organiseerder van die Free State Wedding Expo, kon ‘n bruid daar in- en uitgestap het en haar hele troue kon klaar beplan gewees het.
Daar is werksesies aangebied deur die eregaste, Sylvia Strauss, bekend as Trouvrou, sowel as Diaan Daniels. “Ons het ook ‘n eerste danswerksessie aangebied waar paartjies ‘n bietjie kon oefen, leer hoe om te dans en die lyf kon losmaak. Saam met al bognoemde is daar ook ‘n modeparade aangebied waaraan tien ontwerpers en bruidshuise deelgeneem het. Die sermoniemeester vir die modeparade was Diaan Daniels van Diaan Daniels Couture.
Die Wen-Jou-Troue-kompetisie, waar ‘n paartjie ‘n prys ter waarde van R80 000 kon wen het groot aftrek gekry. Die gelukkige verloofde paartjie wat dié ongelooflike prys gewen het, is Lene Lello en Michiel du Toit. Die prys sluit ‘n trourok, pak vir die bruidegom, voorhuwelikse kontrak, venue, dekor, blomme, koek, fotograaf, parfuum, verblyf vir die bruid die aand voor die troue sowel as vir die bruidspaar op hul huweliksnag, trouring vir die bruidegom, afslag op ‘n wittebrood, bybehore vir die bruidegom, grimering en haarstilering vir die bruid in.
Zilke Prinsloo
zilke@mahareng.co.za