Fotosessie gee Sunette hoop vir toekoms

0
490
Die aspirant-fotograaf, Sunette de Jongh, wys haar slag deur die model Jané Jordaan te kiek. FOTO: LANI FOUCHE

Die 14-jarige Sunette de Jongh van Bothaville, wat op die ouderdom van ses maande met hartprobleme gediagnoseer is, se droom om eendag fotograaf te wees, het verlede week waar geword toe die Reach for a Dream-organisasie gereël het dat sy vir ‘n dag fotograaf kon speel en vir die volgende uitgawe van die Get It-tydskrif foto’s kon neem saam met fotograaf Pierce van Heerden.
Sunette se ouers het saamgespeel en gesorg dat sy niks vermoed het nie totdat sy by Studio Luxe Collective by Warm Karoo, aangekom het. Die pragtige model, Jané Jordaan, was gereed vir die kamera, aangetrek deur Angels Boutique, met bykomstighede van Moors. Willem Janse van Vuuren van Flaming Fire Photography het vir Sunette ‘n kamera vir die dag geleen en toerusting verskaf om haar ervaring iets uit die boeke te maak.
André de Jongh, Sunette se pa, het aan Bloemfontein Courant vertel dat sy met hartprobleme gebore is en op 15 maande haar eerste operasie ondergaan het. Vir 12 jaar het dit goed gegaan, met medikasie. Haar hartklep is tydens ‘n derde operasie vervang en hoewel sy steeds afhanklik is van medikasie, gaan dit op die oomblik baie beter. Sy kan in die toekoms dalk nog ‘n operasie moet ondergaan. “Sunette moes 2016 en 2017 Kersfees in die hospitaal deurbring,” sê hy.

Sunette de Jongh

Ma Danietha sê dat die klep nie saam met Sunette se hart groei nie, en dat daar vir nou niks verder aan die klep gedoen kan word nie, maar hulle bly hoopvol. Die tegnologie word elke jaar beter. “Dit is nie altyd moontlik om vir ‘n kind alles te gee wat hul wil hê nie. Sunette wil baie graag ‘n fotograaf word, so hierdie ervaring sal iets wees wat sy altyd sal onthou en wat hoop sal gee vir die toekoms.”
Yolanda Maartens-Brown, van Reach for a Dream, het gesê dit is baie spesiaal om saam met kinders met lewensbedreigende siektes te werk en aan hulle die kans gee om van hul siektes te vergeet en hul drome uit te leef. “Ons is baie geseënd om te doen wat ons doen.”
Fotograaf Pierce van Heerden sê Sunette het soveel talent en haar passie vir fotografie is daar. “Dit was vir my ‘n voorreg om saam met haar te werk.” Sunette het op die dag ook haar eie kamera gekry van ‘n weldoener sodat sy nou foto’s kan neem oral waar sy kom. – SAZLY HARTZENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za