Die veeldoelige, voormalige Knights-krieketspeler, Dian Forrester, is verheug nadat hy vir ‘n Krieket Suid-Afrika eerbewys vir die 2024/25 plaaslike seisoen benoem is.
Forrester, wat die afgelope twee seisoene ‘n sleutelrol vir die Knights gespeel het, het intussen sy vlerke gesprei en sal nou vir die North West Dragons in aksie wees.
Die Vrystaat Krieketspeler van die Jaar is benoem vir die Krieket SA se Plaaslike Nuweling van die Jaar-toekenning. Forrester is saam met die Warriors-duo, Matthew de Villiers en CJ King, vir die eer benoem.
Dié dinamiese veelsydige speler – bekend vir sy skoon houe en die vermoë om op deurslaggewende oomblikke belangrike paaltjies te neem – het aan Bloemfontein Courant gesê hy sou nie in hierdie posisie gewees het sonder die geleentheid wat hy by die Vrystaat gekry het nie. Hy sê ook dit is bemoedigend om te weet mense neem kennis van sy pogings.
“Ek voel baie geëerd om vir die toekenning benoem te word. As ek terugkyk, was daardie twee seisoene saam met die Knights ongelooflik. Sonder daardie span en die kanse wat ek daar gekry het, sou ek nie vir iets soos hierdie oorweeg gewees het nie.
“Dit gesê, dis ook regtig lekker om individuele erkenning te kry. Ek is baie bly en trots om benoem te word – dit gee beslis ‘n hupstoot vir jou selfvertroue om te weet KSA hou jou dop en erken die harde werk.” Dit gee beslis ‘n bietjie hup in ‘n mens se stap tydens oefening, sê hy.
Met die oog op die nuwe seisoen, sê Forrester hy geniet homself gate uit om by die Dragons te wees en hy kan nie wag om aan die gang te kom nie.
“Ek kan nie wag dat die seisoen begin nie. Dit was ‘n fantastiese voorseisoen saam met die nuwe span, en ek het elke sekonde daarvan geniet.”
Onlangs het Forrester sy eerste proesel internasionale krieket gehad toe hy vir Emerging South Africa in Bangladesj gespeel het.
Teen Emerging Bangladesh het hy ‘n onoorwonne 96 aangeteken en beste boulsyfers van 2/31 behaal. Vroeër in die seisoen, tydens die Eendagbeker, het hy agtereenvolgende honderdtalle geslaan teen die Warriors en Westelike Provinsie. – MORGAN PIEK







