Gerhard Kriel, ‘n Bloemfonteinse tegnologie-invoerder en -verspreider met jare se ervaring in die landbou- en sakewêreld, is aangestel as Vrystaat Landbou (VL), se uitvoerende hoof.
Kriel, van die Kriel Technology Group, volg van Januarie af vir Henk Vermeulen, wat ná ‘n dekade aftree, op.
Dan Kriek, VL-president, het op ‘n mediakonferensie gesê Kriel is met ervaring in die landbou en die sakewêreld die regte man vir die bestuurspos van VL, wat in die veranderende tye meer vaartbelyn en doeltreffend gemaak moet word.
Kriel, wat ‘n B.Sc.-graad in suiwelkunde aan die Universiteit van die Vrystaat en ‘n meestersgraad in sakeleierskap aan UNISA verwerf het, het 27 jaar ervaring van landboubesigheidsbestuur en omdraaistrategieë vir ondernemings, tot sake-ontginning en -ontwikkeling.
Hy sal nie net aan die hoof van VL staan nie, maar moet ook die leidende rol speel om die maatskappy op die been te bring wat vir VL ekstra geld moet maak.
Kriek het gesê VL kry in die veranderde en komplekse politieke en landbou-omgewing ‘n kleiner raad. Daarmee saam word ‘n aparte maatskappy gestig, wat onder meer spesialis- en konsultasiedienste sal lewer om geld te maak sodat VL meer kundige personeel kan aanstel vir dienste aan die boere.
“Ons boerelede sê vir ons hulle het genoeg uitdagings op die plaas en in die landbou en ons moet kundiges aanstel. Ons kan nie bloot ons ledegeld verhoog omdat boere en ons lede minder word nie. Daarom stig ons die maatskappy om die beste kundiges aan te stel. Die werklikheid is, ons moet goeie diens lewer in ‘n samelewing wat op baie vlakke disfunksioneel is.
“Dit is vir ons almal ‘n nuwe uitdaging en dit gaan lekker wees om dit saam met Gerhard aan te pak.”
Kriel het gesê hy sien uit daarna om saam met die boere te werk en ‘n verskil te maak.
VL se voormalige hoofbestuurders, Lulu de Jager (1984-1999) en Pieter Möller (1999-2007), was ook op die konferensie en Kriek het aan hulle en Vermeulen hulde gebring.
Kriek het gesê hulle moes leiding gee in tye wat die land die meeste verander het.
“Oom Lulu se groot nalatenskap was sy visie oor vernuwing en dat jong boere deel moet wees van die organisasie. Dit sal in die geskiedenisboeke afgaan.
“Pieter het in die partypolitieke struweling van sy tydvak daarin geslaag om VL weg te stuur van partypolitiek en op die Grondwet te fokus. Hy was ook die pionier wat die beeld van die boer en die landbou in die media begin uitbou het.”
Kriek het gesê Vermeulen het die weg help baan vir VL se nuwe strategiese planne. Hy sal ook onthou word vir onder meer die stigting van VL se regsafdeling en veiligheidslessenaar, die uitbouing van die beeld van die landbou en hoe hy met die Grondwet as riglyn boere se stryd vir hulle gestry het.
“VL se lede en die Vrystaat se boere is hierdie drie hoofbestuurders baie dank verskuldig.”
DIRK KOK







