Drie jong sokkerspelers van Heidedal het verlede Dinsdag die eerste keer voet aan wal gesit in Spanje nadat hulle gekies is om by die Barcelona sokkerklub (FC) proewe te speel.
Maar voordat dat Zandre Gatri (18), Reagan van der Ross (17) en Eagan van Vollenhoven (16) hul tasse gepak het om die vreemde aan te durf, is daar eers behoorlik van hulle afskeid geneem.
Die Angel Foundation, wat ongeveer R50 000 ingesamel het om vir die drie se reiskoste te help betaal, het op die 1000ste dag van sy bestaan ‘n geleentheid gereël om vir die drie totsiens te sê. Die organisasie het saam met sewe skole in Heidedal asook die Oceans XI-sokker-akademie gewerk om drie leerders met goeie meriete oorsee te stuur.
“Heidedal is besmet met dwelms en daarom wil ons kinders met goeie talent ‘n kans in die lewe bied, sodat hulle nie oor finansies bekommerd hoef te wees nie. Hierdie is ‘n groot geleentheid,” sê Mark Murison, mediaskakelbeampte van die Angel Foundation.
Die proewe wat die jong spelers gaan bywoon is nie net spesiaal omdat dit in Spanje gehou word nie, maar ook omdat daar keurders van ander Europese lande gaan wees.
Zandre Gatri sê hy is baie opgewonde en sien baie uit na die geleentheid oorsee. Sy pa, Solly, was self ‘n bobaas-sokkerspeler op sy dag.
Raymond Tola, ‘n ander lid van die Angel Foundation, sê hulle probeer soveel moontlik vir jongmense doen.
“Daar is vyf geleenthede waar ons jaarliks geld insamel, naamlik die Love Africa-konsert, die Comedy Festival, The Fairytale Project, die Potjiekosfees en laastens ‘n Gholfdag wat in Augustus op die Bloemfontein-gholfbaan gehou word.
Die Angel Foundation het al meer as 10 jongmense oorsee gestuur en heelwat leerders gehelp om plaaslik uit te blink in hul onderskeie velde.
“Die kinders verdien om ‘n kans te kry en as hulle ‘n goeie talent het, is dit vir ons ‘n plesier om hulle te help. Ons hoop die sokkerspelers geniet dit daar anderkant,” sê Murison. – Jeretha Oosthuizen
[email protected]
Date:
Drie van Dal speel sokker in Spanje
By die geleentheid om van die jong sokkerspelers afskeid te neem, is van links Solly Gatri, Reagen van der Ross, Mark Murison, Zandre Gatri en Rey van der Ross.







