Die Departement van Onderwys in die Vrystaat het die voorval waarin ‘n matriekleerling ‘n 18-jarige meisie na bewering met ‘n mes by ‘n skool in Phuthaditjhaba aangeval het, ten sterkste veroordeel. Onderwyswoordvoerder, Howard Ndaba, sê die departement het vining ingegryp en berading word nou aan leerlinge en onderwysers gegee.
Hy sê skole is instellings waar onderrig moet geskied. Skole is nie “oorlogsgebiede nie” nie.
Volgens Ndaba het verteenwoordigers van die departement reeds die skool besoek en berading word aan getraumatiseerde leerlinge en onderwysers sedert gister verskaf. Dit kom nadat hulle gisteroggend omstreeks 07:45 gesien het hoe ‘n 21-jarige matriekleerling van die Hoërskool Moteka ‘n gr.10-leerling sowat 14 keer met ‘n mes gesteek het. Die voorval het op die skoolterrein gebeur.
Ndaba sê die departement werk ook nou saam met die polisie om geweld in skole die hok te slaan. Dit is waarvoor veldtogte soos die “Adopt a Cop”-veldtog daar is.
Die polisie het vroeër aan Bloemfontein Courant gesê die twee leerlinge het vermoedelik ‘n woordewisseling gehad, waarna die verdagte die meisie herhaaldelik daarmee oral op haar lyf gesteek het. Dit het gebeur ten aansien van ander leerlinge en ‘n paar onderwysers. Volgens die polisie se woordvoerder, Mmako Mophiring, kon niemand die meisie te hulp snel nie.
Mophiring sê dit is nog onduidelik waaroor die twee leerlinge gestry het.
Die polisie is egter ontbied en die verdagte, wat later op die skoolterrein in hegtenis geneem is, verskyn môre na verwagting in die plaaslike landdroshof op ‘n aanklag van poging tot moord. Ndaba sê die skoolmeisie is in ‘n ernstige toestand in die plaaslike Mofumhadi Manope Mopeli-hospitaal. “Die departement wens die jong meisie ‘n spoedige herstel toe,” sê Ndaba. – Christal-Lize Muller







