E Copy

Date:

Die Knights moet nou wag en sien

Die ITEC Knights sal moet wag om te sien of hulle tydens Krieket SA se vierdagreeks genoeg gedoen het om te kwalifiseer vir die Divisie 2-eindstryd.

Die Knights het oor die naweek die Garden Route Badgers met nege paaltjies by die Mangaung Oval in Bloemfontein afgeransel in ‘n moet-wen kragmeting.

Ná die sege was die Knights boaan die punteleer, maar hul rondomtaliewedstryde is nou voltooi. Die ander spanne speel nog vandeesweek in die laaste rondte voor die eindstryd.
Die Knights kan moontlik nog punte verdien vir hul kragmeting teen die Mpumalanga Rhinos in Witrivier aangesien ‘n menslike fout daartoe gelei het dat die kragmeting onbeslis geëindig het. Die Knights het appèl aangeteken teen dié uitslag.

Die Knights se kaptein, Patrick Botha, het aan Bloemfontein Courant gesê hulle het gedoen wat hulle kon, maar dit is buite hul beheer.

“Ons het die oorwinning behaal en dit is wat ons in hierdie laaste wedstryd moes doen. Dit het baie karakter van die spelers geverg om ‘n oorwinning te behaal,” sê Botha.

“Dit is nou ‘n geval van ons moet wag en sien wat gebeur, maar dit is buite ons beheer. Ons het gedoen wat ons kon en hopelik is ons in die eindstryd.

“Ons weet nie wat met die wedstryd teen Mpumalanga gaan gebeur nie. Maar dit is ook buite ons beheer. Ons sal die ouens wat daar in beheer is, dit laat hanteer.

“Ons sien uit na wat voorlê en hopelik kan ons ‘n tuiseindstryd hê, maar ons sal sien.”

Die Limpopo Impalas, asook die Northern Cape Heat, staan albei nog ‘n goeie kans om te kwalifiseer vir die kragmeting om die titel. Die twee spanne spook vandeesweek in Polokwane sake uit en die wenner sal beslis in die eindstryd speel.

Die Knights is tans op 98,66 punte, die Impalas op 87,42 punte en die verdedigende kampioene, die Heat, is op 81,16 punte. Tensy een van die twee spanne vandeesweek minder as 1,50 bonuspunte verdien, sal die Knights ‘n tuiseindstryd bespreek.

Indien die kragmeting in Polokwane onbeslis eindig, moet die Impalas 5,26 bonuspunte verdien om boaan die punteleer te eindig, terwyl die Heat 11,52 bonuspunte moet verdien. – MORGAN PIEK

Share post:

Popular

More like this
Related

UFS pianist debuts in Madrid

The University of the Free State (UFS) has celebrated...

NFVF invites applications for public screening funding

The National Film and Video Foundation (NFVF) has opened...

CUT responds to sexual harassment allegations

The Central University of Technology (CUT) has responded to...

ADVERTORIAL: Meet our team of specialists

Life Rosepark Hospital is proud to introduce a dynamic...