Coetzee spog met nog ‘n medaje en wêreldrekord

0
74
Louzanne Coetzee en Clause Kempen op pad na die eindstreep in die T12-marathon tydens die 2020- Paralimpiese Spele in Tokio, Japan. Coetzee, met die hulp van Kempen, was algeheel derde vir die bronsmedalje en het ook die T11-wêreldrekord laat spat. FOTO: AP

Die blinde langasem van Bloemfontein, Louzanne Coetzee, is weer eens ‘n wêreldrekordhouer en kan verder ook spog dat sy twee medaljes verower het tydens die onlangse Paralimpiese Spele in Tokio, Japan.

Verlede week het Coetzee die silwermedalje verower in die T11 1500m saam met haar gids, Estean Badenhorst; haar eerste in ‘n groot internasionale kompetisie.

Maar sy was beslis nog nie klaar nie, en Sondag het sy die 42.2km T12-marathon aangedurf in Tokio.

Coetzee, wat voorheen die T11 5000m-wêreldrekord laat spat het, het algeheel derde in dié marathon geëindig in ‘n blitsige tyd van 3:11.13.

Dié keer het Claus Kempen, wat al vele Comrades-marathons voltooi het, Coetzee bygestaan as gids. Die paar het saam die wedloop voltooi met ‘n persoonlike beste tyd vir Coetzee, en dié tyd was goed genoeg om die T11-marathonwêreldrekord behoorlik te breek. Hulle het die vorige wêreldrekord met ‘n reuse-1 minuut en 42 sekondes verbeter.

Aangesien Coetzee so goed gevaar het in Japan, sal haar bankbestuurder ook rede hê om te glimlag. Vir haar silwermedalje in die 1500m sal Coetzee R220 000 ontvang van die Departement van Sport. Vir die bronsmedalje in die marathon sal sy R100 000 ontvang, terwyl sy ‘n bonus van R180 000 behoort te ontvang vir haar wêreldrekord.

Coetzee se afrigter, Girda Siebert, sal volgens die department se verklaring ook ongeveer R100 000 ontvang. In dié stadium is dit onduidelik of die gidse ook geld sal ontvang of nie.

Bo en behalwe die medaljes en haar prysgeld, is Coetzee ook die deur Suid-Afrikaanse span vereer toe sy aangewys is om die amptelike vlagdraer te wees vir die aflsluitingseremonie van die Paralimpiese Spele. Dit is omdat sy die heel laaste medalje ingepalm het wat in Tokio op die spel was.

In 2019 is Coetzee se wêreldrekord in die T11 1500m deur Mary Waithera Njoroge van Kenia gebreek.

Coetzee het uit Japan aan Bloemfontein Courant gesê dat sy oorweldig is deur die ondersteuning uit Suid-Afrika. Dit was vir haar die “grootste eer” om haar land te kon verteenwoordig.

“Ek is steeds oorweldig deur al die ondersteuning en boodskappe uit Suid -Afrika. Die land se liefde en ondersteuning beteken regtig baie vir my; dit is vir my ‘n baie groot eer om hier te wees.

“Gister se wedloop met Claus – hy is so ‘n kundige gids en ‘n wonderlike marathonvennoot. Ek kon nie vir beter gevra het nie. Hy het my regtig deur die wedloop gedra, en ek is ook baie dankbaar teenoor hom. Dit beteken vir my regtig baie.

“Ek sien daarna uit om nou huis toe te gaan en dit met vriende, familie en die mense van Suid -Afrika te deel.”

Coetzee het ook bevestig dat sy nou al haar aandag gaan toespits op die 2024- Paralimpiese Spele, wat in Parys, Frankryk sal plaasvind.

Coetzee en Kempen sal volgens plan Donderdag in Bloemfontein land ná ‘n uiterse suksesvolle Paralimpiese Spele. Ná haar vertoning vanjaar is die spoke van 2016 in Rio de Janeiro, Brasilië, iets van die verlede. – MORGAN PIEK