Die Toyota Cheetahs het hul spelerspens versterk met die aanwins van nog ‘n senter voordat hulle later vanjaar vir ‘n derde keer aan die EPCR Uitdaagreeks in Europa deelneem.
Die Cheetahs het ná afloop van die Curriebeker die senter, Evardi Boshoff, gegroet wat weer na Wallis is om vir die Ospreys in Swansea te speel. Boshoff, wat die laaste ruk vir die Cheetahs beïndruk het, het voorheen vir die Walliese span as ‘n leenspeler uitgedraf, maar dié keer sal hy egter gedurende die hele Verenigde Rugbykampioenskap vir Ospreys speel. Hulle het ook die vleuel Daniel Kasende gegroet, wat nou permanent vir die Ospreys gaan speel.
Die Cheetahs het die 24-jarige senter, Franco Smith, vanaf die Italiaanse span Zebre gekontrakeer. Smith is die oudste seun van die voormalige Springbok- en Vrystaat-losskakel, Franco Smith, wat ook as die Cheetahs se hoofafrigter gedien het en die Curriebeker in 2016 én 2019 gewen het. Boonop, is hy ook die broerskind van MJ Smith, wat op sy dag ook losskakel vir die Vrystaat gespeel het.
Die Smith-familie het beslis diep spore in Vrystaat rugby getrap en rugby in die streek is sonder twyfel in Smith Jr se bloed. Hoewel hy in Newport, Wallis, gebore is, het hy in Bloemfontein skoolgegaan en eerstespanrugby vir Grey Kollege speel. Hy het op alle vlakke van junior rugby vir die Vrystaat uitgedraf.
Smith het verlede week reeds met die Cheetahs begin oefen en sommer onmiddellik goed by die span ingeskakel. Hoewel hy nie Woensdagaand teen die Western Force in die Toyota Uitdaagreeks vir die Cheetahs gespeel het nie, kan hy moontlik Sondag teen die Griffons sy senior buiging vir die Vrystaat maak.
Die nuwe aanwins het aan Bloemfontein Courant gesê dit is ‘n groot eer om terug te wees by die span wat so baie vir die familie beteken.
“Ja, ek is terug en ek is baie opgewonde om terug te wees by hierdie geskiedkundige span,” het Smith gesê.
“Vir my persoonlik is dit ‘n massiewe eer en voorreg om weer terug te kom en in die Vrystaat-Cheetahs-trui te veg. Dit is ‘n span en ‘n klub waarvoor ons as gesin nog altyd omgegee het.
“Om te kan bydra tot hierdie klub is vir my persoonlik baie spesiaal, natuurlik omdat ek weet hoeveel beide my oom en pa vir die Vrystaat Cheetahs omgegee het.”
Die Shimlas spoedvraat, Asanda Kunene, asook die Kovsies Young Guns losskakel, Shaun Rey, het intussen ook by die Cheetahs ingeval. Kunene het Woensdagaand teen die Force sy buiging gemaak. – MORGAN PIEK