Cézanne sien uit na Moments

0
957
Cézanne Yzelle, wat saam met verskeie ander kunstenaars by Moments gaan optree.

Die gewilde sanger, Cézanne Yzelle, tree hierdie jaar saam met verskeie ander kunstenaars op by die jaarlikse Moments-konsert, wat op 23 November in die Odeion-teater op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat plaasvind.

Yzelle het aan Bloemfontein Courant vertel dat sy baie bevoorreg voel om deel te wees van hierdie gesogte geleentheid. “Willie Venter is ‘n groot naam in die bedryf en om saam met hom te kan werk, is ‘n eer. Ek is opgewonde oor die musiek wat hy vir my gekies het; dis vir my ‘n uitdaging om myself verder te verbeter,” sê sy.

Yzelle wil nie alles verklap nie, en sê mense moet maar self kom kyk. “Ek dink ek was van die begin af lief om op te tree en my pa het altyd ‘n grap gemaak dat hy in plaas daarvan om vir my ‘n fiets te kry vir my verjaardag, dalk eerder vir my ‘n verhoog moet bou,” verduidelik sy.

Op die vraag van waar sy meese van die tyd optree, het sy geantwoord, in en om Bloemfontein, en ook saam met ‘n aantal plaaslike kunstenaars. Sy sing in groot produksies, in intieme lokale en op partytjies. Yzelle het ook al opgetree by groot korporatiewe geleenthede, kunsmarkte, troues en by kinderteater.

Sy sê dat sy passievol is oor Jesus Christus en gelukkig voel om deel te wees van die aanbiddingspan by die Baptiste Kerk in Bloemfontein waar sy elke Sondag sing. “Ek het ook my studies in teologie begin om myself beter toe te rus vir my musiekbediening,” sê sy. Die talentvolle jong sanger verduidelik dat dit nie maklik is om ‘n musikant, ma van twee, vrou, sake-eienaar en nou student te wees nie, maar tog is dit vir haar uiters vervullend.

Kaartjies vir die Moments-produksie is beskikbaar by Computicket.

SAZLY HARTZENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za