Cézanne ekstaties oor nuwe enkelsnit

0
429
Cézanne Yzelle Photo: Gerduan Kemp from GK Kreativ Productions

Simplisties en eerlik. Dit is hoe die geliefde Bloemfonteinse sanger, Cézanne Yzelle, haar vierde enkelsnit, “In Jou Arms Slaap”, beskryf. Dié enkelsnit word eersdaags vrygestel.

Die lied, geskryf deur Arno de Wet, het dadelik Cézanne se aandag getrek toe sy dit hoor, en sy sê, “Die lirieke het net absoluut met my gepraat.” Cézanne sê oor De Wet se skryf van die spesifieke lied dat mens min ’n storieboek-tipe liefde in die lewe vind.

Dit is ’n liefde waaroor mens net kan droom. Die lied, “In Jou Arms Slaap”, is geskryf met hierdie soort liefde in gedagte. “Ek is gelukkig om te kan sê dat ek hierdie jaar nege jaar getroud is met my beste vriend, Callie Skibbe.

Hy ken al my geheime en aanvaar my soos ek is. Vir my is dit ware intimiteit en toe Arno die lied vir my sing, was dít wat ek gesien het – iemand saam met wie jy die ergste sal aanpak en wat vir jou veiligheid bied. Die lied beskryf die liefde as ’n toevlug, iets waarna mens uitsien om elke dag opnuut te ervaar en te deel.”

Cézanne vertel veder hoedat die lirieke van die lied sterk staan op hul eie, in so ’n mate dat dit nie vir hulle nodig was om allerande truuks uit te haal met die verwerking daarvan nie. Die talentvolle sanger en vokale afrigter is vir 11 jaar reeds in die stad gevestig en beskou Bloemfontein as haar ‘huis’.

Sy is ook oral welbekend vir haar optredes. Alhoewel baie haar sien as ’n “Power Diva”, wys sy ’n ander kant van haar met hierdie enkelsnit. “In Jou Arms Slaap” is vervaardig deur Jaco Bezuidenhout en geborg deur MFI.

Dit sal op 26 Februarie 2021 beskikbaar wees op alle digitale platforms en kan oor menige radiostasies regoor die land gehoor word.

Die video is ook beskikbaar op YouTube en KyknetNOU.

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za