Sabrina Dean
Die seun van ‘n bejaarde egpaar wat ernstig beseer is tydens ‘n rooftog op hul plaas net buite Bloemfontein sê ‘n mens moet jou nie blindstaar teen die negatiewe aspekte van die aanval nie, maar liewer dankbaar wees dat Elize en Jaap Swart nog leef.
Philip sê dit gaan vandag baie beter met sy ouers, wat albei in die Mediclinic Bloemfontein opgeneem is, nadat hulle die naweek aangerand en gesteek is.
Hy sê ‘n mens moet daarteen waak om almal oor dieselfde kam te skeer – twee skobbejakke se gedrag beteken nie die hele wêreld is boos nie.
"Dis ‘n skok. Aan die begin is ‘n mens maar kwaad, want die geweld is sinneloos. ‘n Mens kan verstaan daar is baie mense wat soek na werk en wat swaarkry, maar om nog ‘n verkeerde ding te doen maak dit nie reg nie. Ons is so dankbaar vir al die ondersteuning. Daar’s honderde meer wat goeie dinge doen, en dit gee ‘n mens weer hoop."
Die 65-jarige Elize is vandag van die intensiewesorgeenheid na ‘n gewone saal oorgeplaas terwyl Philip vandag vir die eerste keer met sy pa, die 67-jarige afgetrede ortopediese chirurg, Jaap, kon praat nadat hy van die ventilator afgehaal is.
Intussen sê polisiewoordvoerder Harry Nagel hulle is steeds opsoek na twee verdagtes wat gevlug het met Swart se wit Toyota Hilux bakkie, ‘n .22-geweer, twee selfone en ‘n onbekende bedrag geld. Die bakkie se registrasienommer is DVB913FS.







