E Copy

Date:

Blinde Louzanne wil in Duitsland vir Spele kwalifiseer

Die Bloemfonteinse wêreldrekordhouer in die 5000m vir siggestremde vroue-atlete, Louzanne Coetzee, en haar gids, Khothatso Mokone, sal Saterdag en Sondag in Berlyn, Duitsland, op die Internasionale Paralimpiese Komitee (IPC) se Grand Prix-byeenkoms in aksie wees.

Hulle gaan hul kleim vir oulaas afsteek vir ‘n moontlike plek in die Suid-Afrikaanse span vir atlete met gestremdhede vir deelname aan die Paralimpiese Spele in September in Rio de Janeiro, Brasilië.

Coetzee en Mokone neem Saterdag deel aan die 800m en Sondag pak hulle eers die 5000m en daarna die 1500m. Hul fokus is egter uitsluitlik op ‘n wêreldklastyd in die 1500m omrede dit die enigste nommer is wat vir volkome blinde atlete (T-11 gestremdheidskategorie) in Rio beskikbaar is.

Coetzee verskyn tans agtste op die wêreldranglys vir beste vertonings in 2016 met ‘n tyd van 5:14,51 wat sy in Mei op die Suid-Afrikaanse Ope-kampioenskap opgestel het. Dié tyd was toe ‘n nuwe Afrika-rekord, maar die wêreldbestes het intussen met puik vertonings vorendag gekom.

Haar Afrika-rekord is later deur Befilia Buya (Angola) na ‘n skitterende 5:03,36 verbeter en die peil van die deelnemers in hierdie afdeling is van so ‘n hoogstaande gehalte dat die genoemde Angolees tans slegs vyfde op die wêreldranglys verskyn.

Die voorloper is Jin Zheng (Sjina) wat vanjaar ‘n skitterende tyd van 4:46,19 daargestel het. Sy is die gunsteling om die Paralimpiese titel in dié afdeling en nommer te wen.

Die huidige diepte in die T-11-kategorie in die 1500m is van die beste wat daar nog was. Drie vroue het reeds onder die magiese vyf minute-grens ‘n draai gaan maak.

En, indien Coetzee die nasionale keurders se regmerk vir deelname in Rio de Janeiro wil loshardloop in Duitsland, gaan sy vir seker ‘n tyd van ten minste onder 5:10 moet baasraak. Dit sal haar dan onder die voorste ses atlete in die wêreld plaas.

Indien sy die huidige Afrika-rekord (5:03,36) vermag, gaan die keurders twee keer dink voordat sy Jan-tuisbly-se-karretjie gaan ry tydens die Rio-spele. – RUFUS BOTHA

Previous article
Next article

Share post:

Popular

More like this
Related

UFS pianist debuts in Madrid

The University of the Free State (UFS) has celebrated...

NFVF invites applications for public screening funding

The National Film and Video Foundation (NFVF) has opened...

CUT responds to sexual harassment allegations

The Central University of Technology (CUT) has responded to...

ADVERTORIAL: Meet our team of specialists

Life Rosepark Hospital is proud to introduce a dynamic...