LANI FOUCHÉ
Die letterkunde is ‘n belangrike middel om ons land se geskiedenis in die post-apartheidera te bewaar. Dit is ‘n onbewustelike poging om die mites, tonele en senario’s van die verlede vas te vang en vir die toekoms te bêre in ‘n omgewing wat deurlopend verander.
Só redeneer Ettiene van Heerden, een van Suid-Afrika se mees bekroonde skrywers. Uit dié professor se pen het onder meer aangrypende stories gevloei soos In Stede van die Liefde (2005), Asbesmiddag (2007) en 30 Nagte in Amsterdam (2008). Hy is Hofmeyr-professor in die Skool vir Tale en Letterkundes aan die Universiteit van Kaapstad en stigter-redakteur van die aanlyn-boekejoernaal, LitNet.
Sy literatuur-reise deur die dekades het aan hom die waarde van die Afrikaner-literatuur oor histories gebeure uit die verlede en hede geleer, asook hoe die plek van literatuur in post-apartheid-Suid-Afrika onderhandel moet word. Hy het verlede week as deel van die projek Contemporary German and Afrikaner Cultural Responses to Issues of Trauma, Reconciliation and Reparation, wat deur die Britse Akademie befonds word, by die Universiteit van die Vrystaat gepraat.
Stuard Taberner, professor in eietydse Duitse geskiedenis, kultuur en samelewing van die Universiteit van Leeds en André Wessels, senior professor aan die departement geskiedenis by die UV het as respondent op Van Heerden se lesing opgetree.
Van Heerden het die gehoor deur ‘n persoonlike tydreis geneem wat begin het by sy grootwordjare op ‘n plaas naby Graaff-Reinet, verby sy besoeke tydens die apartheid-era aan Zimbabwe, tot waar hy tans woon en werk in Kaapstad.
“In die apartheid-jare is letterkunde-kabaret as’t ware as ‘n vorm van protes gebruik. Die letterkunde se manier om die seer van die verlede te verwerk, is deur stories te vertel. Dit is so eenvoudig,” het Van Heerden gesê. Sy vroegste herinnering aan verhale is toe hy as ‘n klein seuntjie saans langs ‘n jong plaaswerker in sy ouerhuis op die vloer gesit en aandagtig na sy stories geluister het.
Hy het egter sy mond uitgespoel oor die moderne letterkunde wat, volgens hom, nie meer is soos wat dit was nie. “Die letterkunde het te kommersieel geword. Skrywers dans soos ape op Facebook rond.”
Die UV-vennote vir dié projek is dr. Cilliers van den Berg, dr. Johann Rossouw en prof. Pumla Gobodo-Madikizela.