Bekende Bfn-sakevrou se dood skok

0
5690
Louise Klopper FOTO: FACEBOOK

Bloemfonteiners het vanoggend wakker geword met die skoknuus dat een van die stad se voorste sakevroue gisteraand in die Mediclinic Bloemfontein aan longontsteking dood is.
Louise Klopper, eienaar en stigter van Louise Klopper Promotions & PR Consultancy, wat dekades lank al sake in die Rosestad doen, is sowat ‘n week gelede in Mediclinic Bloemfontein opgeneem en haar toestand het oor die naweek versleg.
Sedert die nuus van dié formidabele sakevrou se dood gebreek het, het haar vriende, sakekennisse asook gewone Bloemfonteiners, hulle tot sosiale netwerke gewend om hul skok en ongeloof uit te spreek.
‘n Ander bekende sakevrou en vriend van Klopper, Anette Kasselman, het haar hartseer so op Facebook verwoord: “Rus sag liefste Louise. Jy laat ‘n reuse-leemte en jy gaan baie gemis word. My hart en gebede gaan uit na julle, Wouter en seuns, oom Gert, Waksie Prinsloo, Jeanne Klopper, Nell Van Heerden, jou uitgebreide familie en almal wat vir jou lief was.”
Annie le Roux het op Facebook gesê die nuus oor Klopper se dood is ‘n groot skok. “Jy het soveel mense se lewe aangeraak net met jou menswees. Jy was ‘n stunning ma, mens en ystervrou. Jou dood laat ‘n groot leemte en laat my net weer besef hoe kortstondig die lewe is en dat ons elke dag ons geliefdes en vriende moet koester. Dit was ‘n eer om jou te kon ken. My hart gaan uit na Wouter en jou kinders,” was Le Roux se boodskap aan Klopper.
Elmarie Prinsloo se kort maar kragtige boodskap aan Klopper was: “Swiesa. . . jy leef in soveel harte. Ons harte is seer, dit was net so vinnig, jy laat so groot leemte, maar soveel mooi in die ongelooflike mens wat jy was.”
Klopper se jonger broer, Waksie Prinsloo, het aan Netwerk24 gesê die familie is geweldig hartseer oor haar dood. Hy sê sy het longontsteking opgedoen nadat sy ‘n tyd lank probleme met haar longe gehad het.
Volgens Netwerk24 word Klopper oorleef deur haar man Wouter, drie seuns, ‘n skoondogter en twee kleindogters. – Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za