Aspersietert
Maak een groot tert (30x20cm)
| Bestanddele | |
| 2 x 400g | blik wit aspersies (maak altyd die blik aspersies ‘onderstebo’ oop sodat die punte van die aspersies nie afbreek nie!) |
| 500ml | kaas, gerasper (matig beleë cheddar werk goed), bietjie ekstra kaas om bo-oor te sprinkel |
| 50g | botter |
| 4 | eiers, geskei |
| 500ml | melk |
| Sout en ’n knippie rooi peper | |
| Kors | |
| 280g | koekmeelblom (500ml/2k) |
| Knippie sout | |
| 5ml | bakpoeier |
| 100g | botter (soos ek sê – on- onderhandelbaar!) |
Metode vir die kors
Meng die droë bestanddele saam en vryf botter in – druk vas in liggies
gesmeerde tertbak.
Metode vir die vulsel
Pak die aspersies en kaas in lae in die tertkors, stip met die botter. Voeg die geurmiddels by die melk en eiergeel – meng goed. Klits die eierwit effens styf en vou by die melkmengsel. Gooi oor die gepakte lae in die tertkors, sprinkel kaas oor en bak by 160°C tot gaar (melk-eiermengsel sal begin set). Bedien as ’n souttert of as ’n ligte aandete met slaai!







