Angs onder kinders op werksessie bespreek

0
156
Eloise Venter het met moeders gepraat tydens ’n werksessie by die Family Focus-terapiesentrum in Bloemfontein.

“Om ouers in te lig oor angs by kinders, wat aan depressie gekoppel word, is in die beste belang van hul kinders.”

Dit was die woorde van voorligtingsielkundige, Eloise Venter, tydens ‘n werksessie met moeders by die Family Focus-terapiesentrum in Dan Pienaar verlede week.

“Ouers is desperaat oor inligting oor angs, depressie en aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom (ADHD). Baie verkeerde inligting en inligting gebaseer op persoonlike ervarings eerder as bewyse, bestaan. As ons ouers kan opvoed, is dit in die kind se beste belang. Ouers kan dan inligting kry wat geloofwaardig en betroubaar is,” het sy gesê.

Ouers het van hul eie ondervindings gedeel oor angsversteuring in hul kinders. Venter het verduidelik dat die werksessie gehou is omdat dit blyk dat daar ‘n toename in pasiënte onder die gemeenskap is wat deur angs geraak word en waar hierdie versteuring, saam met depressie, erg gestigmatiseer kan word. “Ons wil die stigma oor versteurings geheel en al verbreek. Hoe meer ouers ek bereik, hoe meer ouers is daar wat van beter sal weet,” het sy verduidelik.

Martie Bloem, een van die ouers wat die werksessie bygewoon het, het gesê dat ouers leiding soek om hul kinders reg groot te maak. “As ouers is ons altyd op soek na inligting om ons te help met ons kinders, veral wanneer ‘n mens onseker is of jy reg optree of nie. Dit help ook om met ander ouers wat dieselfde probleme het, te kommunikeer en kontak te hê, want wanneer jy met hulle praat, besef jy jy is nie alleen nie,” het Bloem gesê.

Moeders het ook oor hul eie angs gepraat en vrae gestel om hulle te help met oplossings. Hulle is ingelig oor die verskille tussen vrees, stres en kroniese angs, sowel as hoe om dit te hanteer.

Maruschan de Beer, ‘n onderwysstudent, het vertel dat sy die werksessie bygewoon het om haarself toe te rus vir wanneer sy jong leerders onderrig. “Ek het gedink dit is ‘n uitstekende leeraktiwiteit vir myself omdat ek reeds sommige van hierdie simptome in sommige kinders met wie ek werk, herken,” het sy gesê. – Nomaqhawe Mtebele
nomaqhawe@mahareng.co.za