Nuwe navorsing wat pas vrygestel is tydens ‘n konferensie van die Amerikaanse Akademie van Ortopediese Chirurgie, het bevind dat jongmense wat stimulante inneem wat metielfenidaat bevat, ‘n hoër risiko het om laer beendigtheid as hul eweknieë te hê. Metielfenidaat kom in medikasie soos Ritalin voor en word gewoonlik gebruik om die simptome van ADHD te behandel. Daar is voorheen daarop gewys dat ADHD-medikasie soms kan lei tot ‘n stadiger groeitempo onder kinders, maar die effek op beendigtheid is nog nooit ondersoek nie.
Lae beendigtheid kan moontlik lei tot probleme wanneer hierdie kinders die volwasse stadium bereik. Dit is uiters belangrik dat die menslike liggaam tydens adolessensie beendigtheid opbou. Lae beendigtheid kan lei tot ‘n hoër risiko om frakture op te doen en kan selfs lei tot osteoporose in later jare van volwassenheid. Volgens die hoof-navorser, dr. Alexis Feuer, werk die menslike liggaam op sy hardste tydens adolessensie om goeie beendigtheid te verseker.
Die studie het meer as 6400 jongmense ingesluit. Van hierdie groep het 159 ADHD-medikasie wat metielfenidaat bevat, gebruik. Al die deelnemers het beendigtheidskanderings ondergaan. Die bevinding was dat jongmense wat metielfenidaat gebruik, se beendighteid meer as 5 % laer is as ander jongmense.
Beteken dit nou dat ons almal die Ritalin in die toilet moet wegspoel, al help dit vir Boeta om ten minste aandag te kan gee aan sy werk? Glad nie. Hierdie navorsing wys net daarop dat kinders wat metielfenidaat gebruik se beendigtheid dalk gemonitor moet word. Indien u kind baat deur metielfenidaat te gebruik en in die gevalle waar ‘n persoon wat spesialiseer in ADHD dit voorskryf, is dit totaal onnodig om die pilletjie weg te spoel.
Oefeninge, wat gewigte insluit, is baie goed vir die ontwikkeling van beendigtheid. Goeie voeding is noodsaaklik, maar dit is bekend dat kinders wat ADHD-medikasie gebruik, meestal nie goeie eters is nie en in baie gevalle nog fiemies ook het. Daarom is voedselaanvullings wat kalsium, magnesium en vitamien A bevat, dalk ‘n goeie opsie.
Indien jy meer oor die behandeling van ADHD asook aanvullings hiervoor te wete wil kom, moet jy nie Biolink se ekspo misloop nie.
Biolink bied op 13 en 14 Mei 2016 ‘n ADHD-ekspo by Pres. Brand-laerskool in Pellissier, Bloemfontein, aan. Dit is die tweede keer dat hierdie ekspo in Bloemfontein aangebied word, nadat ‘n behoefte geïdentifiseer is om inligting binne bereik van ouers, opvoedkundiges en persone betrokke by kinders se ontwikkeling in Bloemfontein en omliggende dorpe, te plaas.
Uitstallers en sprekers bied inligting aan ouers met kinders wat sukkel om te fokus en te leer.
Die hoofspreker van die ekspo, wat glad nie bekendstelling nodig het nie, is prof. André Venter. Hy is die akademiese hoof van die Departement Pediatrie en Kindergesondheid by die Universiteit van die Vrystaat. Hy spits homself veral daarop toe en is ‘n kenner wat internasionaal erken word op die gebied van serebrale gestremdheid, ADHD, outisme en leerprobleme. Kom luister gerus na hom op 13 Mei om 14:00 en 14 Mei om 11:00.
Professionele persone kan met hul bywoning van die ekspo vir 5 CPD-punte (HPSA Vlak 1) in aanmerking kom.
Koste beloop R50 per persoon per dag en kaartjies kan vooraf by Edunation se tak in Langehnovenpark of by die ingang tydens die ekspo aangeskaf word.
Kontak gerus vir Marie-Louise Smith by [email protected] of 083-287-8845 oor hoe om betrokke te raak as uitstaller by hierdie ekspo. – Prof. Deon Visser
Date:
ADHD-medikasie kan beendigtheid in jong kinders beïnvloed
Dr. Alexis Feuer. FOTO: WEILL CORNELL, MEDICINE ART & PHOTOGRAPHY







