Aan tafel met ‘n ‘moordenaar’

0
583
Tydens 'n onlangse Murder Mystery-aand is van links Isabel Mostert, Marike Bridge, Jeff Bridge, Trevor Recchia, Schanet Recchia en voor is Gawie Basson.

Die atmosfeer is senutergend. Vreesaanjaende skaduwees word vasgevang teen die mure in die polsende lig van ‘n dosyn kerse. “Dis jy,” skree jy, terwyl jy na die man oorkant die tafel in die skouermantel en pluiskuil wys met jou vurk. Die dame in haar swart korset langs hom snak na haar asem.

Jy voel uiters tevrede met jouself terwyl jy kou aan jou hoenderbeen. Jy het so pas die moordenaar in jul midde uitgewys. En dis jou goeie vriend van twintig jaar!
Welkom by ‘n splinternuwe vermaaklikheidskonsep in Bloemfontein – die Murder Mystery Evening – aangebied deur Marike Bridge. Hierdie gewilde konsep, wat nou uiteindelik in Bloemfontein beskikbaar is, bied aan gaste verskeie opwindende “moordtemas”. Daar kan gekies word tussen temas soos Count Blackwell (‘n vampier-tema-aand); Da Vinci; Witches Coven (bedoel vir agt dames); Jane Austen; Titanic; Pirate Murder Mystery; Fairytale Land; en die baie interesante Bloody Christmas Carols se moordtema. Teen slegs R250 per persoon, is hierdie nie net ‘n ander tipe vermaak nie, maar ook ‘n baie bekostigbare manier om ‘n aand deur te bring saam met vriende.

En as jy dink dis sommer ‘n vinnige afskeepgeleentheid maak jy ‘n groot fout. Marike spandeer amper twee weke aan elke Murder Mystery-aand se sorgvuldige beplanning en uitleg. Elke aspek van die aand word versigtig geformuleer en ontwerp. Marike besoek die perseel waar die aand gaan plaasvind sodat sy die perfekte atmosfeer kan skep. Waar moontlik, kry sy bietjie meer inligting oor die gaste om te verseker almal kry die perfekte karakter.

Uitnodigings, pragtig ontwerp in besondere detail om tema-spesifiek te wees, word per hand afgelewer. Hierdie uitnodigings bevat al die besonderhede en agtergrond van die tema; wie vermoor is; asook die spesifieke details van jou karakter. Gaste word ook gevra om kostuums (wat die tema pas) te dra op die aand van die Murder Mystery – net om die hele geleentheid nòg meer vermaaklik te maak. Daar is meer as een plek in Bloemfontein waar gaste kostuums kan huur.

Op die aand van die Murder Mystery, word die geleentheid in vier rondes gedeel. Aan die begin van elke ronde ontvang gaste ‘n lys vrae wat hulle vir mekaar moet vra, asook die antwoorde. Verskeie leidrade word deur die loop van die aand verskaf. Dit word nou gebruik om die moord op te los. Maar jy moet mooi oplet – partykeer is dit die kleinste detail wat die grootste betekenis het. Gaste word ook gevra om heeltyd “in karakter” te bly. Versteekte “drama-talente” wat na vore kom, sorg vir groot pret.

Bewys jouself ‘n guns en kontak Marike vir ‘n onvergeetlike aand. Facebookblad beskikbaar by https://www.facebook.com/The-Murder-Mystery-game-night-308455940099525/.

Vernon Baumann
info@bloemfonteincourant.co.za