Wie gaan eerste bang word?

0
624

HORACE TERRY

Met die skryf van hierdie rubriek het die JSE Algehele Indeks 10.7% gedaal sedert September 2014. ‘n Daling van ten minste 10% beteken volgens definisie dat daar ‘n regstelling in die mark plaasgevind het. Hoe ver gaan die mark nog val? Niemand weet nie. Wat ons wel weet, is dat voor die regstelling die plaaslik aandelebeurs geheel en al oorwaardeerd of duur was. Dat ‘n regstelling op pad was, is al vir ‘n geruime tyd voorspel en het eintlik lank geneem om uiteindelik plaas te vind. Hoekom dus nou so groot skrik as ons dit verwag het? Ons skrik so groot omdat dit menslik is en ons gehoor gee aan ons emosies. Tydens onsekere of abnormale marktoestande (positief of negatief), neem ons emosies (vrees of gierigheid) ons logiese denke oor. Hoe gaan jy dus nou reageer? Gaan jou vrese jou wysmaak dat die mark dié keer nie gaan herstel nie en dat onophoudelik gaan val, of gaan jou logiese denke vir jou sê dat ‘n broodnodige regstelling plaasgevind het en daar nou weer waarde gevind kan word op die plaaslike mark? Die belegger wat gehoor gee aan sy vrese en die een wat gehoor gee aan sy logiese denke gaan tans dus teenoorgesteld optree. Die vreesbevange belegger gaan sy geld vat en hardloop en glo hy gaan terugkom wanneer die markte herstel. Hy dink dus hy gaan die mark kan "time". Die belegger wat gehoor gee aan sy logiese denke gaan nou kalm bly en die waarde wat deur die regstelling geskep word benut. Hy/sy gaan dus nou weer bietjie inkoop op die huidige vlakke of die risikoblootstelling opsy bestaande belegging verhoog. Wie dink jy gaan die beste af wees in 12, 24 of 36 maande van nou af? Indien jy in ‘n goed gediversifiseerde beleggingsportefeulje belê het, het jy geen rede tot kommer nie. Jy het waarskynlik ‘n langtermynplan (strategiese bate-allokasie) in plek. Moet nie nou van daardie plan afwyk nie. Daardie plan is juis deur jou finansiële beplanner in plek gesit om jou te help om jou emosies te beteul. Jou finansiële beplanner sal nou met behulp van goeie taktiese bate-allokasie (jou korttermynplan) vir jou voordeel trek uit die huidige onsekerhede en oor die volgende jaar of drie sal daardie waarde vir jou ontsluit word in die vorm van goeie kapitaalgroei. Byt vas, alles wat afkom, gaan weer op.

* Terry is ‘n gesertifiseerde finansiële beplanner en beleggingsadviseur by Nassaux Blouster.