E Copy

Date:

Wees bedag indien jou honde vergiftig is

Honde-eienaars moet voorvalle waarin hul viervoetiges deur booswigte vergiftig word om maklik toegang tot eiendomme te verkry, by die polisie en die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) aanmeld.
Dié waarskuwing kom nadat voorvalle van vergiftiging toenemend sedert die begin van die jaar in Welkom en omliggende gebiede voorgekom het.
Thea Smit, voorsitter van Virginia DBV, sê sedert Januarie is sowat 50 voorvalle in dié gebied aangemeld. Dit sluit Hennenman, Theunissen, Ventersburg en Winburg in. Volgens haar het huiseienaars soms eers die volgende oggend op hul vergiftigde honde afgekom. Dan is daar in buitekamers of motorhuise ingebreek. In ander gevalle is honde vergiftig sonder dat daar ingebreek is. Daar was dan elders in die straat ‘n inbraak. Sy sê honde word hoofsaaklik snags vergiftig. Die gevreesde, dodelike Two-Step word in onder meer rou vleis geplaas en vir honde gegooi om te vreet.
In Welkom is tientalle honde ook reeds vanjaar vergiftig. Die polisie het verlede week ‘n waarskuwing gerig dat honde-eienaars meer paraat moet wees. Dit kom nadat vier honde meer as ‘n week gelede in Bedelia vergiftig is, daar in die motorhuis ingebreek is en ‘n motorfiets gebuit is. Dit het gebeur terwyl die inwoners geslaap het en eers die volgende oggend op hul dooie honde afgekom het. Polisiewoordvoerder, Stephen Thakeng, het bevestig daar is ‘n defnitiewe tendens in Welkom. Verskeie voorvalle word ondersoek.
Hy doen egter opnuut ‘n beroep op inwoners om sulke voorvalle aan te meld, ongeag of die diere gevrek het of nie. Dit kan die polisie in staat stel om daardie woongebiede intensief te patrolleer. ‘n Klag van opsetlike saakbeskadiging kan ook aangemeld word. Mense moet juis na só ‘n voorval hul veiligheid opskerp. Plaaslike buurtwagte en veiligheidsmaatskappye moet in kennis gestel word.
Smit beaam dit. “Laat weet ook jou bure, want in baie gevalle word jou honde vergiftig, omdat hulle ook ‘n lawaai gaan maak as daar by jou bure ingebreek word.” Honde is nie slegs daar om eiendom te beskerm nie, hul veiligheid moet ook in ag geneem word. Sy beveel aan dat honde veral snags, indien moontlik, in die huis slaap of in ‘n buitekamer wat nie aan die voorkant grens nie. Dit kan voorkom dat honde vergiftig word. Sy glo honde is meer werd as hulle in die huis is, want hulle kan hul eienaars waarsku as daar indringers is.
Vergiftigde honde moet spoedig na ‘n veearts of die DBV geneem word. Honde kan simptome soortgelyk aan ‘n epileptiese aanval toon. Dit sluit in die swaar beweging van ledemate, braking en speeksel uit die hond se mond. Geaktiveerde houtskool of ‘n lakseermiddel kan help, sê sy. Dit is egter uiters noodsaaklik om steeds mediese hulp te kry.
Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die vergiftiging in Bedelia nie.
Intussen sê Reinette Meyer, ’n senior inspekteur van die Bloemfonteinse DBV, sover bekend was daar nie onlangs enige soortgelyke voorvalle in Bloemfontein nie. Die polisie het dit ook bevestig. Meyer sê dit is egter belangrik dat inwoners ingelig word van hierdie tipe misdaad. – Christal-lize Muller
[email protected]

Share post:

Popular

More like this
Related

Busamed gives children hope through free scoliosis surgery

Busamed Bram Fischer Private Hospital in Bloemfontein is performing...

Preserving Bloemfontein’s heritage assets

Bloemfontein is home to some of South Africa’s most...

MMM addresses Treasury concerns

The Free State has once again come under the...

Transport oversight visit focuses on safer roads

Deputy minister of transport Mkhuleko Hlengwa visited the Free...