E Copy

Date:

Vrystaters laat waai by taai Dakar

Die 2023 Dakar-veldren het Sondag in Saöedi-Arabië geëindig en dit was een vir die Rosestad se rekordboeke, met twee Vrystaters wat hul stemme deeglik dik gemaak het.

Die 31-jarige motorfiets-veldrenjaer, Charan Moore, het uitgeblink deur die strawwe Dakar te wen wat oor 8 500km gestrek het. Moore het die Malle Moto-klas vir motorfietse gewen. Dit was sy eerste titel by die Dakar en dit was slegs sy tweede poging.

Die Malle Moto-klas is sonder twyfel die taaiste by die Dakar, met die deelnemers wat selfonderhoudend moet wees. Die deelnemers moet alles self doen en indien daar ’n meganiese probleem is, moet hulle dit self oplos. Bo en behalwe dit, was vanjaar se veldren een van die taaiste sedert die eerste Dakar wat in 1978 plaasgevind het.

Moore, wat in Ladybrand woon en in Bloemfontein op skool was (St Andrews’ School), het aan Bloemfontein Courant gesê dat vanjaar se Dakar geensins maklik was nie. Hy gee toe dat dit ’n groot eer is om dié gesogte veldren te wen.

“Ek is ongelooflik opgewonde oor hierdie resies,” het Moore gesê.

“Hierdie Dakar was op en af vir my. So, om dit aan die einde te maak en die Malle Moto-klas te wen is ongelooflik. Ek het soveel probleme met die motorfiets gehad – ‘n brandstofpomp, die ratkas en ek moes die motor alleen vervang. Dit was nogal ’n ervaring.

“Die weer was mal en die skofte was lank. Dit is beslis een van die Dakars vir die rekordboeke. Ek is werklik geëerd om die klas te wen en Suid-Afrika te verteenwoordig. Dit was goed – ek voel sterk, gelukkig en sien al uit na die volgende een.”

Die 39-jarige navigator, Leander Pienaar van Bloemfontein, en sy spanmaat en bestuurder van Komatiepoort, Eben Basson, het meegeding in die T3-klas as deel van die Europese span, G Rally. Dit was hulle eerste poging by die Dakar en hulle het algeheel sewende geëindig in hul klas. Hulle het egter teruggekeer na Suid-Afrika met die gesogte Beginnerstrofee. Al ses die spanne wat voor hulle oor die eindstreep gejaag het, het al vantevore aan die veldren deelgeneem.

Dit is ‘n indrukwekkende prestasie as ‘n mens in ag neem dat daar in die laaste minuut besluit is dat hulle gaan meeding.

Pienaar het op sy beurt aan Bloemfontein Courant gesê dat dit ‘n groot ondervinding was en dat die ondersteuning uit Suid-Afrika oorweldigend was.

“Die eerste week was veral baie taai gewees. Ons het slegs drie weke voor die Dakar besluit dat ons gaan deelneem. Ons het nie baie daarvoor geoefen nie en ons het ook geen ondervinding gehad nie. Dit het egter baie goed uitgewerk vir ons. Eben is ‘n koelkop agter die stuurwiel. Ek kon ook die navigasie uitwerk, wat baie moeilik was, veral teen die spoed wat ons gery het.

“Ek moet sê ek is baie trots op ons span. Hulle was professioneel en passievol. ‘n Mens verstaan nie hoe hard hulle gewerk het om die kar op die pad te hou nie. Dit was ‘n massiewe ervaring en alles was oorweldigend. In ons wildste drome het ons nie verwag om so ‘n resultaat te behaal nie. Om die Beginnerstrofee te wen was ‘n groot prestasie.

“Ons wil net vir ons ondersteuners ook baie dankie sê. Daar was baie mense wat die tyd afgestaan het om boodskappe te stuur. Daar was ongelukkig nie tyd om vir almal dankie te sê nie, maar ons het dit baie waardeer.”

Share post:

Popular

More like this
Related

UFS pianist debuts in Madrid

The University of the Free State (UFS) has celebrated...

NFVF invites applications for public screening funding

The National Film and Video Foundation (NFVF) has opened...

CUT responds to sexual harassment allegations

The Central University of Technology (CUT) has responded to...

ADVERTORIAL: Meet our team of specialists

Life Rosepark Hospital is proud to introduce a dynamic...