Talle gebiede het weer water in Bloemfontein

0
1050
CMG launches campaign to assist drought-stricken communities

Watertoevoer na gebiede in Bloemfontein wat verlede week sedert Maandag met leë krane tevrede moes wees, is uiteindelik herstel. DA-raadslid en waterkenner, Rossouw Botes, sê Pellissier, Ferreira, Lourierpark en Bloemdal het Saterdagaand reeds water gehad nadat ‘n ondergrondse deel van die pyplyn buite die stad na die Brandkop-reservoir in Bloemfontein gebars het. Botes sê teen gister het al elf gebiede wat geraak is, kraanwater gehad, hoewel sekere gebiede se waterdrukking swak was. Dit kom nadat ’n waterpyp van die Welbedachtdam na die Brandkop-reservoir verlede Maandag gebars het. Werknemers van Bloemwater het onverpoos gewerk om die probleem te herstel. Sekere gebiede in die stad het teen Donderdag water gehad, maar Vrydag in die vroeë oggendure het ’n ander eenheid van die pyplyn gebars. Botes sê Bloemwater het ’n bedrywige tyd agter die rug. Inwoners is dankbaar dat Bloemwater, wat in moeilike toestande moes werk, watertoevoer na dele in die stad kon herstel en dat inwoners nie langer sonder water was nie. Dit sluit albei voorvalle in waar die pyplyn gebars het, sê Botes.

Hy meen egter met meer kundigheid sou die probleem nie so groot gewees het nie. “As daar meer kundigheid was, sou ander maatreëls toegepas word, soos om die pyplyn gereeld na te gaan om onderhoudwerk te doen.

Botes sê die eenheid van die pyplyn wat Vrydag gebars het, was bykans 15 meter lank en weeg sowat 2.1 ton, daarom moes hyskrane gebruik word, wat ’n tydsvertraging tot gevolg gehad het.

Die Mangaung-metro het sedert verlede week watertenks beskikbaar gestel om inwoners van die gebiede van water te voorsien. Woordvoerder van die metro, Qondile Khedama, het verlede week aan Bloemfontein Courant bevestig dat ingenieurs van die metro ook betrokke was by herstelwerk aan die eerste waterpyp wat verlede Maandag gebars. Hy het deurgaans om verskoning gevra vir enige ongerief wat deur die probleem veroorsaak is. – Christal-Lize Muller