Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) tree in Oktober vanjaar af ná 14 jaar diens.
Colditz is welbekend vir sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse onderwys. Dit volgens dr. Shaun Mellors, voorsitter van Fedsas se Nasionale Raad wat aan Bloemfontein Courant gesê het
dat Colditz se bydrae nog lank in onderwyskringe gevoel sal word. “Hoe Fedsas vandag funksioneer as betroubare en gerespekteerde onderwysvennoot is grootliks te danke aan Paul se visie, insig en handewerk,” sê dr. Mellors. Met Colditz aan die stuur, het Fedsas gegroei tot ‘n organisasie waarby die beheerliggame van meer as 2000 openbare skole in al nege provinsies as lede aangesluit het.
“Ons is veral ook trots op ons bande met ander onderwysrolspelers, insluitend die nasionale Departement van Basiese Onderwys. Onder Paul se leierskap is Fedsas gevestig as die leier in skoolbeheer en -bestuur met nie net plaaslike nie, maar ook internasionale erkenning vir die werk wat die organisasie doen,” sê dr. Mellors.
Volgens hom sal Colditz van 1 Junie 2021 af in ‘n ander hoedanigheid betrokke wees om die oorgang van leierskap binne Fedsas glad te laat verloop. “Dr. Jaco Deacon, wat die huidige adjunkhoof is, sal vanaf 1 Junie 2021 vir ‘n tydperk van vyf maande as uitvoerende hoof waarneem voordat hy op 1 November 2021 permanent die leisels oorneem.”
Dr. Mellors sê met dr. Deacon as waarnemende hoof gee dit aan die Nasionale Raad genoeg tyd om die oorgangsproses te bestuur sodat Fedsas se aktiwiteite en dienste sonder onderbreking kan voortgaan.
Fedsas sal tydens die organisasie se algemene jaarvergadering aan die einde van hierdie jaar op gepaste wyse afskeid neem van Colditz.
Pierce van Heerden







