Oud Studente wys sportman en -vrou van die jaar aan

0
218
Gaillaume Oberholster is weereens as Oud Studente se sportman van die jaar aangewys. FOTO: OUD STUDENTE

Oud Studente het hulle sportman en -vrou van die jaar aangewys met Gaillaume Oberholster en Niekie Brits wat met die louere weggestap het.

Oberholster het tussen 2020 en 2022 aan verskeie senior tennistoernooie regoor die land deelgeneem en sy staal deeglik getoon. As gevolg van sy prestaties by die toernooi oor die afgelope jaar is Oberholster gekies vir die Suid-Afrikaanse mans 55+ tennisspan.

Die span het vanjaar in Florida in die VSA deelgeneem. ‘n Totaal van 25 lande het aan die toernooi in Amerika deelgeneem. Dit was ook die agtste keer dat hy sy land verteenwoordig het.

Oberholster het ook aan die individuele wêrelkampioenskappe deelgeneem wat in Palm Beach Gardens, Florida, plaasgevind het.

Niekie Brits se uitstaande vertonings op die rolbalbaan het vir haar die Oud Studente sportvrou van die jaar eerbewys verdien. FOTO: OUD STUDENTE

Brits is op haar beurt sedert 2019 vir die Suid-Vrystaat Interdistrikte Dames Ope rolbalspan gekies. In 2019/20 het sy koning gekraai in die dames enkelspel, en was ook ‘n lid van die vierspel-wenner op die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Nasionale kampioenskappe.

Weens haar uitstaande vertonings op die baan is sy ook vir die nasionale polisiespan gekies. In 2021 het sy as die kaptein die dames ope pare by die SVS kompetisie gewen en tydens die gemengde pare het sy in die laaste agt geëindig.

In 2022 het Brits die dames-enkelspeltitel tydens die SVS Ope gewen, terwyl sy ook vierde geëindig het in die dames ope meester. In die ope vier kampioenskappe en tydens die pare het sy weereens onder die laaste agt geëindig.

Oberholster en Brits se deursettingsvermoë, toegewydheid en lojaliteit is ‘n nastrewenswaardige voorbeeld vir al die lede van die klub. – MORGAN PIEK