Onwettige oplaaipunt steeds ‘n tameletjie

0
366
Tot ambulanse tel rylopers op in Raymond Mhlabaweg.

‘n Inwoner van Noordhoek wat ‘n paar weke gelede sy lot in Bloemfontein Courant bekla het oor ‘n onwettige oplaaipunt voor sy huis in Raymond Mhlabaweg, sit na vele klagtes aan die Mangaung-metro steeds met sy hande in sy hare.

André Haman is op moedverloor se vlakte oor dié probleem wat hy meen talle veiligheids- en gesondheidsrisiko’s vir die inwoners van die gebied inhou. Van die dinge wat hom dwars in die krop steek, is motors wat enige plek stop om rylopers op te laai, die strooi van rommel, drankmisbruik, asook die lawaai wat daarmee gepaard gaan.

“Die munisipaliteit ignoreer ons klagtes oor die publiek se veiligheid sowel as talle wetsoortredings wat by die oplaaipunt plaasvind. Niemand gee gehoor of reageer op ons navrae nie. Beloftes van vergaderings word nie nagekom nie en ons voorstelle oor hoe om die probleem op te los, word geïgnoreer.

“My een seun ly aan angs, wat ons huishoding nadelig beïnvloed omdat dit nie veilig is daar nie met die gedrinkery en soms bakleiery deur rylopers en motoriste. Die lawaai tot laat voor die huise is ‘n groot steurnis,” sê Haman.

Hy sê die gemeenskap voel dat die munisipaliteit hom nie aan hulle steur nie, ondanks al die fotobewyse van onwettighede wat hulle al verskaf het.

“Vroue en kinders moet al die dinge wat hier gebeur aanskou. En as mens die skuldiges vra om nie rommel te strooi of lawaai te maak nie, word jy gedreig en gevloek. Dit is onaanvaarbaar om so bedreig te voel in jou eie omgewing.

“Ons maak die eiland voor my huis daagliks skoon, omdat dit soos ashoop lyk, maar steeds voel die munisipaliteit vere. Die gesondheidsbeamptes by die munisipaliteit doen nie eers moeite om op ons navrae te reageer nie. Bel mens wetstoepassing oor die gedrinkery en slegte gedrag van rylopers, kry jy geen reaksie nie.”

Haman sê van al die munisipaliteit se beloftes om die situasie te ondersoek, het tot dusver dadels gekom. Die situasie word egter net erger by die dag. “As munisipaliteit nie gehoor gaan gee aan ons pleidooie nie, gaan ons die saak beslis verder neem, want ons as gemeenskap is geregtig op ‘n veilige en skoon omgewing,” het ‘n moedelose Haman aan Bloemfontein Courant gesê. – Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za